Ek wil nie Spiderwoman wees nie
Ek wil nie Spiderwoman wees nie

Ek wil nie Spiderwoman wees nie

Karin Eloff
Karin Eloff - Dit sit nie in almal se broek om Spiderwoman te wees nie.

Saterdagoggend spring ek in die stort en toe in my jean – gereed om die winkels aan te durf ter wille van oorlewing. Maar dadelik bespeur ek ’n brandsteek in my regterkantste kuit.

In een gladde Chippendale-beweging ruk ek my broek sommer oor my tekkies weer af en skud hom uit dat dit lyk of ek op ’n metal-konsert in die "mosh pit" vassit.

Toe ek oortuig is die broek is skadeloos gestel, spring ek weer in hom in. Maar die brand begin net meer brand en my kuit het by inspeksie ’n moerse rooi kol.

My oog vang toe ’n ding op die vloer. Dik, ronde lyfie, lang pote, nogal baie soos ’n . . . knopiespinnekop . . .

Nogal ’n mooi dingetjie met sy bruin lyfie en helderoranje geometriese patrone op. Dankie die hemele een of ander moorddadige oerinstink skop by my in en voor ek sien, het ek die ding met ’n plakkie vermorsel – onherkenbaar dood.

En toe begin ek snaaks voel. So ’n warm en koue golf van duiseligheid spoel oor my. En kopwurms. En toe begin ek Google.

Neurotoksies, lees ek.

Nog ’n vlaag warm en koue paniek. En toe die hartkloppings. Ek weet nou nog nie of dit paniek of die spinnekopbyt was nie.

En ek voel niks lekkerder nie.

Ek besef ek moet gou speel. Spruit kan nie bestuur nie, sy’s nog nie eers 13 nie, en as ek nou vlou word, wat gaan van haar word en wat gaan sy doen?!

Ons beter ry, besluit ek.

Ek boender die beneukte laatslapertiener by die bed uit met ’n: “Word wakker! As ons nie nou ry nie, is Mamma dood!” Arme Spruit. Praat van ’n “rude awakening”.

Ek het nie eers "make-up" aan nie en Spruit het nog nie tande geborsel nie. Wie gee om?

Ek jaag hospitaal toe en dis ook maar goed daar was nie juis verkeer nie, want ek sou bo-oor alles ry.

By die hospitaal lyk niemand juis angstig nie. Maar kan julle nie sien ek’s besig om dood te gaan nie?! skree ek in my kop.

En toe begin die rukkings. Maar dis nie juis koud nie.

Vier inspuitings en twee soorte drup later voel ek so lekker, ek wil net huis toe gaan.

"No wait," sê die dokter, "you’re too sleepy to drive. Does your daughter drive?"

Wat?! Sy’s net 12, "dude" . . . Maar ek vergeet daar ís seker plaaskinders van Spruit se ouderdom wat kan skiet, skop en bestuur.

"Erm, nee, dok, ek sal liewer self bestuur, ek voel regtig 'fine', dankie." Die dok lyk of hy vir my wil lag.

"Okay," sê hy, "let me just get you some pain killers then to take home." Maar ek haat mos pille. Het skaars pynpille in my huis.

"It’s okay, doc, I feel fine, thanks." Weer die geamuseerde laggie. Wat is dan nou so snaaks, wonder ek.

By die huis gekom, is ek en Spruitjie net bly niemand is dood nie. En toe oorval die slaap my – glo van die anti-histamien en ek weet nie wat alles nog wat in my ingespuit is nie.

Ek "pass" vir vier ure op die bank uit. Toe ek wakker word, besef ek hoekom die dokter gelyk het of hy vir my wou lag.

My been brand. Soos die hel self. Dit voel of iemand my met ’n vuurhoutjie brand op een plek. Aanhoudend. Ek sluk dit maar net. Moet nou nie ’n baba wees nie, sê ek vir myself, jy’s darem nie dood nie en pyn is net ’n gevoel.

Ek en Spruit probeer ’n DVD in die bed kyk. Lê stil, sê Spruit vir my, jy wriemel. Ek kán nie, sê ek, dis onmoontlik. Sal jy kan stillê terwyl iemand jou met ’n vuurhoutjie brand?!

Hoekom het ek nie maar net die dok se pilletjie gevat nie, verwyt ek myself.

Al trippelend hol ek badkamer toe om te kyk wat in die kassie is – ’n koorspen . . . en pynpille wat al die pad van Suid-Afrika saamgetrek het.

Ek gooi enetjie in my keel af en hoop vir die beste. Ná so 20 minute kan ek eindelik ophou wriemel. En toe "pass" ek weer uit en arme Spruit moet haar fliek alleen klaar kyk.

Die volgende oggend is die brandpyn terug en ek kan alweer nie stilsit nie. En my persoonlikheid het ook ’n omwenteling omgaan: "marshmallow"-mamma het skielik in PMS-feeks verander en ek moet arme Spruitjie verskeie kere om verskoning vra vir my kortafgeit.

"Moral of the story"?

Dit sit nie in elke ou se broek om Spiderman of -woman te wees nie. En beslis nie in myne nie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer