'Ek bring 'n stukkie son saam'
'Ek bring 'n stukkie son saam'

'Ek bring 'n stukkie son saam'

Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis



“As jy siek is, bly tuis. Ek kan help,” sê Marian Laubscher.

Die Hoes In Jou Huis-inisiatief is haar breinkind, waarmee sy diegene wat tuis moet isoleer weens Covid-19, se lewens wil vergemaklik.

Met haar “Hilux-dienste” ry dié arbeidsterapeut oral in Windhoek rond, selfs in omliggende buite­wyke soos Elisenheim en Omeya, en help oral waar sy kan. Van 'n lysie met takies wat gedoen moet word; pakkies optel en aflaai; honde- of katkos aanry; kruideniersware koop of kospakkies bestel en aflaai – sy doen dit alles.

“Dalk is jy in die bevoorregte posisie waar jy vir iemand wat siek is, wil blomme stuur – dit doen ek ook graag. Dít wat die mense nou nodig het, dít doen ek. Sodra jy bel, of WhatsApp en jou behoefte vir my deurgee, is ek tot jou diens. En ek bring 'n stukkie son saam!” vertel sy.

Marian sê die inisiatief broei al 'n rukkie by haar.

“Ek het weens ondervinding met vriende en kennisse die geweldige nood besef by diegene wat siek is of moet isoleer. Elkeen het steeds vars melk of 'n toebroodjie nodig. Met die derde golf wat ons so skielik getref het, en wat regtig tans sy merk maak, het ek besluit die Hilux moet start – die nood is hoog.”

Sy vertel sy glo in menslikheid en diensbaarheid en word verder aangespoor deur die “lekkerte wat ek terug ontvang”.

“Namibië, ons spook tans, maar die Here is ons herder. Praat dikwels met Hom, en Hy sal ons hierdeur help. Ons moet besef ons stryd is nog lank nie verby nie. Mag ons altyd onthou om moed te hou.” Diegene wat van haar dienste wil gebruik maak, kan haar by 081 284 8604 kontak.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer