Eise vir medisyne nou direk
Eise vir medisyne nou direk

Eise vir medisyne nou direk

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Alle private mediese fondse kan van 1 Maart af direkte eise van dispenserende dokters aanvaar.

Dié stap volg enkele weke nadat die hoërhof ten gunste van die Mediese Vereniging van Namibië (MAN) beslis het dat sekere bepalings van die Medisyne en Verwante Middele Beheerwet (MRSCA) 13 van 2003 nietig en ongrondwetlik is.

Dokters was voor die uitspraak volgens die Medisynebeheerraad (NMRC) verplig om lisensies te hê om medisyne te kan dispenseer.

Volgens die Vereniging vir Namibiese Mediese Fondse (Namaf) is die be­s­tuurstelsel van alle dokterspraktyke o­pgestel om direkte eise te akkommodeer en dit voorts toe te pas op die betrokke fonds se regulasies en voordeelstrukture. Volgens Namaf se waarnemende hoof uitvoerende beampte, mnr. Callie Schafer, sal alle verifiërings gedoen word terwyl die pasiënt steeds by die praktyk is.

Volgens Schafer is die vertraging in 'n amptelike aankondiging deur Namaf nie 'n skending van die regte van dispenserende dokters óf om die dispensering van medisyne enigsins te vertraag nie. Prosedures moes eers verfyn word. Hy het beklemtoon Namaf en sy lede was van die begin af duidelik daaroor dat dokters nie afhanklik van enige besluit of aksie van die vereniging of sy lede is nie en dat die hofuitspraak die pad vir die toekoms van dispensering duidelik gemaak het.

“Die uitspraak het eenvoudig impliseer dat dokters te enige tyd kan begin dispenseer en dat hulle nie afhanklik van enige besluit van Namaf of mediese fondse is nie,” het hy gesê.

Volgens Schafer moes dispenserende­ dokters net van hul pasiënte of lede verwag het om die medisyne te betaal en dan 'n eis by hul onderskeie mediese fondse vir terugbetaling in te dien.

Ten spyte van die potensiële administratiewe risiko's sal mediese praktisyns volgens Schafer steeds in staat wees om eise aan mediese fondse binne vier maande na die pasiënt medikasie ontvang het, te verwerk. Laasgenoemde geld in dié gevalle waar medisyne ná 13 Februarie gedispenseer is en waar direkte betaling vir die medikasie nie vereis is nie.

“Lede kan steeds eise indien vir solank as wat die eise in terme van die fonds se regulasies geldig is.”

Schafer het beklemtoon Namaf kan nie aan mediese fondse voorskryf wat om te doen nie.

“Mediese praktisyns word versoek om hul fondse en administrateurs te raadpleeg.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer