Eindstryd op 'n mespunt voorspel
Die hantering van druk sal deurslaggewend wees in die botsing van die land se twee voorste klubs.
Tielman van Lill – Die verdedigende premierligakampioen, Ceiling Centre WHS Old Boys, se botsing in Krieket Namibië se eendagpremierligafinaal teen Samsung FNB Wanderers sal môre ’n aanskoulike en spannende rillerstryd tussen dié twee bulspanne oplewer.
Krieket Namibië is bestem om vandag die besonderhede van die inkomende toer deur Uganda vroeg in April aan te kondig, wat vir die nasionale Eagles hul eerste T20- en eendagkrieket sedert einde Februarie 2020 sal beteken. Hierdie vooruitsig van ’n lank verwagte terugkeer na internasionale aksie behoort die vlak van die klubfinaal selfs ’n kerf hoër te lig.
Die eindstryd wat môreoggend by die Wit Hingste se hoofkwartier in Pionierspark bestem is, word op die beste moontlike kolfblad gespeel wat deur die gesoute mnr. Wynand Louw voorberei word.
Natuurlik tel die tuisvoordeel in die guns van die gasheerspan, maar kaptein Gerhard Erasmus en sy WHS-spelers is ewe goed vertroud met die omstandighede en sal bal-vir-bal vir die premiertitel veg.
Old Boys se topvyf kolwers, sonder die beseerde Zane Green, het verlede naweek in hul tuisstadion Vegkop op ’n moeilike kolfblad gesukkel om die lopies op te stel. Craig Williams, Wimpie Viljoen, Gerhard Erasmus, Divan la Cock en Gerhard Janse van Rensburg, kon in hul semifinaal teen CCD Tigers gesamentlik net 98 van 160 aflewerings (20 boulbeurte) bewerkstellig. Dié stand van sake is egter ewe veel ’n pluimpie vir Tigers se boulers, wat uitstekend was met Ben Shikongo aan die stuur.
Hierteenoor het Wanderers ’n lopiefees in sy semifinaal teen Trustco United by Wanderers beleef. Sewentien viere en ses sesse het van die Hingste se kolwe gevloei om in 50 boulbeurte 279 vir nege as teiken op die telbord te plaas.
Wanderers se topvyfkolwers, Danie van Schoor, JC Balt, JP Kotze, Michau du Preez en Karl Birkenstock, het ’n stewige 162 van 207 balle (34.5 bb) versamel teen ’n kolftempo van 78 persent.
Die mediumsnelbouler Tangeni Lungameni van Old Boys het laasnaweek teen Tigers gekook en met ses paaltjies die kollig gesteel. Ruben Trumpelmann is nog ’n linkerarm naatbouler wat môre met sy spoed verwoesting kan saai. Craig Williams is nie net ’n ervare kolfmeester nie, maar ’n slim en akkurate bouler wat saam met die draaiers soos Erasmus, Divan la Cock, Christian Schumacher en Mauritius Ngupita die vloei van lopies kan stu.
Vir Wanderers sal sy deurwinterde kaptein, Nicolaas Scholtz, se draaiballe en leierskap ’n deurslaggewende faktor wees. Teen United het hy ’n aggressiewe 49 van 35 balle geblits en was ewe produktief met sy hardloopwerk tussen die paaltjies as wanneer hy met groot houe (twee sesse, twee viere) losgetrek het.
Die veelsydige Birkenstock is op enige dag gevaarlik met sy naat-aflewerings, terwyl Bernard Scholtz se draaiballe enige kolwer hoofpyne besorg. Sy 5/22 in 9.4 bb en vier leë beurte teen United spreek boekdele.
Die nuutste toevoeging, Ruben Claassen, is saam met Dewald Nell ’n gedugte deel van die boulaanval. Mits Nell fiks verklaar word, kan WHS dalk hul visier op hom instel – hoewel hy teen United ’n bitter suinige elf lopies in vier boulbeurte (ekonomie 2.75) afgestaan het.
Nie Erasmus óf Scholtz weet hoe die kolfblad môreoggend voor die opskiet van die munt gaan lyk nie. Die span wat wel die loot gaan wen, sal eerste wil kolf om met 200 of meer lopies die druk op sy opponent te plaas.
Erasmus sê: “Die spel sal van hoë gehalte wees. Die standaard van klubkrieket moet deurgaans verbeter om ons nasionale span te versterk en ’n finaal is altyd die ideale geleentheid om ’n goeie vertoning te lewer.
“Dit is lekker om vir Ruben terug te hê. Sy impak as naatbouler is van kardinale belang en hy versterk ons middelorde as kolwer. Sy spoed in die semifinaal was merkwaardig.
“Wanderers sal ’n sterk span in die veld stoot. Hulle het die mees ervare spelers wat al groot krieket gespeel het en dit maak hulle die gunstelinge in die finaal.
“Ons sal graag as die buiteperd die kans wil gebruik om vrylik te speel en só die titel te wen. Ons het ’n baie goeie mengsel van ervaring en jeug in die span. Gewoonlik word van die senior spelers verwag om die leiding te neem en dan kan ons jong spelers meer leer en so ervaring opdoen.
“Of Wanderers ’n beter span as ons het of nie, elke wedstryd begin met die telling op nul. Dus het elke span ’n gelyke kans. Ons kan die finaal wen. Afhangende van hoe die kolfblad lyk, sal waarskynlik ’n telling van meer as 200 lopies gejaag moet word.
“Dit sal ’n goeie vertoonvenster vir krieket in Namibië wees.”
Nicolaas Scholtz sê: “Ons sien uit na hierdie eindstryd. Dit is mos waarvoor ’n klub streef en werk gedurende die seisoen – om in ’n finaal te speel. Old Boys is die verdedigende kampioen en ons het die afgelope week seker gemaak ons is reg voorberei.
“Wanderers weet ons is in vir ’n groot wedstryd en ’n geveg, want hulle sal graag die beker wil behou. Soos al ons botsings teen mekaar sal dit opnuut op ’n mespunt gebalanseer wees.
“Ons voorbereiding het die afgelope week goed verloop. Tydens die wedstryd moet elke speler doen wat reg is en nie foute maak nie. Old Boys is ’n span wat vinnig ’n fout kan uitbuit en die oorhand kry.
“Ek verwag ’n goeie en opwindende wedstryd.”
WHS Old Boys se groep vir môre, in geen spesifieke volgorde nie: Wimpie Viljoen, Craig Williams, Gerhard Erasmus, Gerhard Janse van Rensburg, Ruben Trumpelmann, Divan la Cock, Christian Schumacher, Donovan Zealand junior, Tangeni Lungameni, Mauritius Ngupita, Dirk Theunissen, Dylan Leicher, Melrich Robyn.
Behalwe vir ’n paar beserings, kan Wanderers grootliks dieselfde spelers as teen United inspan. Danie van Schoor, JC Balt, JP Kotze, Michau du Preez, Karl Birkenstock, Ruben Claassen, Nicolaas Scholtz, Bernard Scholtz, Lu-Hendro de Waal, Tobie Verwey en Dewald Nell het in die semifinaal opgestap.
Spelers wat moontlik oorweeg kan word, is JJ Smit, Niko Davin en Jan Frylinck, maar sekerheid moet eers oor Frylinck en Smit se beskikbaarheid gekry word. Frylinck herstel steeds van ligte harsingskudding en spesiale toestemming moet van Krieket Namibië gekry word om Smit te gebruik. Nell is verlede Saterdag beseer en sal moontlik nie beskikbaar wees nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie