Eindelik weer regstreekse boks op TV

Boks
Michael Green – Ná maande se heruitsendings weens die Covid-19-pandemie kan plaaslike boksentoesiaste hierdie naweek weer na ’n paar regstreekse gevegte kyk.
En die pret eindig nie dan nie – SuperSport saai oor die komende maande nog ’n paar oorsese en ’n plaaslike toernooi uit, wat beloof om groot opwinding te verskaf.
Daar is Sondagoggend sommer drie wêreldtitelgevegte in Uncasville in die Amerikaanse deelstaat Connecticut wat op die kassie sal wees.
Die hoofgeveg is tussen die Wêreldboksraad (WBC) se middelgewigkampioen Jermall Charlo van Amerika en Sergiy Derevyanchenko van Oekraïne.
Charlo se tweelingbroer, Jermell, kom in nog ’n geveg teen Jeison Rosario van die Dominikaanse Republiek te staan, met die WBC, Wêreldboksvereniging (WBA) en Internasionale Boksfederasie (IBF) se junior weltergewigtitels op die spel.
Die derde titelgeveg is tussen die WBA se junior veergewigkampioen, Brandon Figuera van Amerika, en sy landgenoot Damien Vazquez.
Die toernooi word Sondag van 01:00 op SuperSport se Variety 1 (206) en Maximo (241) uitgesaai.
• Op 10 Oktober verskuif die kollig na Emperor’s Palace in Kemptonpark, waar ’n paar Suid-Afrikaanse boksers mekaar die stryd gaan aansê.
Die superweltergewigte Brandon Thysse en Boyd Allen sal onder andere in aksie wees.
• Op 24 Oktober is dit die Amerikaner Gervonta Davis, wat sy WBC superveergewigtitel teen Leo Santa Cruz van Mexiko verdedig.
– Netwerk24



FOTO’S
Die tweelingbroers Jermall en Jermell Charlo is albei hierdie naweek in Uncasville in Amerika aksie. Foto Getty Images

Suid-Afrikaanse ondersteuners sien nogal baie uit na die geveg op 10 Oktober tussen Boyd Allen (regs) en Brandon Thysse in Kemptonpark. Links is Tristan Truter, wat dieselfde aand teen Roarke Knapp sal boks. Foto Facebook

Kommentaar

Republikein 2025-05-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer