Eiendomsfirmas van oorsee sak op JSE toe
Gelok deur beleggers se aptyt
Elma Kloppers - Buitelandse eiendomsmaatskappye sak deesdae en masse op die JSE toe, grootliks gelok deur Suid-Afrikaanse beleggers se stewige aptyt vir eiendom, spesifiek in die buiteland.
“Dit het tot gevolg dat 40% van die onderliggende eiendomme wat deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse genoteerde eiendomsindeks op grond van waarde, in die buiteland is,” sê Ian Anderson, beleggingshoof van Grindrod Batebestuur.
Hy sê die oorgrote meerderheid van die eiendomme is in Sentraal- en Oos-Europa.
Die nuutste eiendomsrolspeler wat op 18 Augustus sekondêr op die JSE gaan noteer, is die Poolse groep Globe Trade Centre (GTC), wat primêr op Warschau se beurs genoteer is.
Aan die einde van verlede jaar het die boekwaarde van die groep se portefeulje op €1,3 miljard (R19,26 miljard) gestaan. Dit behels 20 kantooreiendomme en vyf kleinhandelsentrums met gekombineerde ruimte van sowat 524 000 m².
GTC ontwikkel en besit kantoor- en kleinhandeleiendomme in Pole en die hoofstede in ander lande in Sentraal- en Oos-Europa, insluitende Bulgarye, Kroasië, Hongarye en Slowakye.
Thomas Kurzmann, uitvoerende hoof van GTC, sê 40% van die eiendomsportefeulje is in Pole.
Hy sê die rede om sekondêr op die JSE te noteer, spruit voort uit Suid-Afrikaanse eiendomsgroepe wat al ’n geruime tyd aktief in lande in Sentraal- en Oos-Europa belê en ook dié groep om gesamentlike ondernemings genader het.
“Ons het verlede jaar kapitaal van €140 miljoen ingesamel, wat beteken dat ons nie in dié stadium op soek is na vars kapitaal nie, maar wel sal wees vir toekomstige ontwikkelings en verkrygings.”
GTC, wat sy hoofkantoor in Warschau het, is tans besig met die ontwikkeling van ’n winkelsentrum van 62 000 m² in die Poolse hoofstad, wat reeds 70% volverhuur is.
Hy sê die vooruitsigte vir die Poolse ekonomie is positief, met ekonomiese groei van 3% in 2016.
Anderson sê die hooftrekpleister vir Suid-Afrikaanse beleggers van ’n buitelandse eiendomsgroep op die JSE is die randverskanser-blootstelling en die feit hulle kan belê sonder dat hul buitelandse vergunnings in gedrang kom. “Hulle word ook gelok deur die korttermynattraksie, waar die koste van kapitaal heelwat goedkoper is as die aanvanklike opbrengskoerse van die eiendomme wat verkry word,” sê hy.
Keillen Ndlovu, hoof van Stanlib se eiendomsfondse, sê die nuwe noterings van buitelandse eiendomsgroepe op die JSE word gedryf deur Suid-Afrikaanse eweknieë wat aggressief in buitelandse markte inbeweeg het.
“Dit het die belangstelling van eiendomsgroepe in dié markte geprikkel om sekondêre noterings op die JSE na te streef om likiditeit te verbeter, ’n diverse aandeelhouersbasis te kweek en ook die geleentheid te kry om kapitaal van ’n groter poel beleggers te verkry.”
Hy sê dit kom nie heeltemal sonder risiko nie en daar moet in gedagte gehou word dat van die buitelandse lande lae of geen inflasie het nie, wat huurgroei kan beperk. “Die geldeenheid-onbestendigheid moet ook nie buite rekening gelaat word nie.”
Ander buitelandse eiendomsmaatskappye wat in September hul buiging op die JSE maak, is die Britse winkelsentrumreus Hammerson met ’n eiendomsportefeulje ter waarde van R172 miljard, wat dit die grootste genoteerde eiendomsgroep op die JSE sal maak, en nog ’n Poolse eiendomsgroep, Echo Polska Properties (EPP).
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie