Egiptenare kies tussen Sisi en sy teenstander
Egiptenare kies tussen Sisi en sy teenstander

Egiptenare kies tussen Sisi en sy teenstander

Egipte se presidentsverkiesing het gister begin en duur tot Woensdag.
NAMPA
Egiptenare het gister in die presidentsverkiesing hul kruisies begin trek om te kies tussen die dienende president, Abdel Fattah al-Sisi, en ‘n onbekende politikus wat dit moeilik gevind het om te bewys dat hy ‘n ernstige mededinger is.

Stembusse het om 07:00 GMT vir die driedaagse verkiesing geopen. Sisi is feitlik verseker van ‘n oorwinning en nóg ‘n termyn van vier jaar.

Die president was onder die eerstes om te stem. Hy het onder streng veiligheidsmaatreëls in Kaïro se Heliopolisdistrik gestem.

Veiligheidsmagte is dwarsoor die land ontplooi om stempunte te beskerm en gepantserde voertuie was op verskeie plekke in Kaïro te sien.

Die Islamitiese Staat (IS)-groep se filiaal in Egipte, wat reeds honderde soldate en burgerlikes vermoor het, het gedreig om die verkiesing te ontwrig.

Saterdag is twee polisiemanne in ‘n motorbomontploffing dood waarin die provinsiale veiligheidshoof van die Alexandrië-gebied geteiken is.

Nagenoeg 60 miljoen kiesers is geregistreer.

Hulle moet kies tussen Sisi en Moussa Mostafa Moussa. Hy het kort voor die sluitingsdatum aangedui hy is verkiesbaar en het sodoende ‘n eenmanwedloop verhinder.

Moussa het aan die hoof van ‘n Sisi-herverkiesingsveldtog gestaan tot hy self as kandidaat geregistreer het.

Ander opponente is eenkant geskuif, insluitende die voormalige militêre stafhoof, Sami Anan, wat aangehou is kort nadat hy sy kandidatuur in Januarie aangekondig het. - Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2025-05-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer