Eeufees by WHS behoorlik gedenk
Eeufees by WHS behoorlik gedenk

Eeufees by WHS behoorlik gedenk

Nagenoeg tweeduisend spelers ding in die komende dae in vier sportkodes mee.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Windhoek Hoërskool se aanbieding van die Hennie de Waal sportfees komende naweek sal altesame 29 skole byeen bring as deel van die 100-jarige bestaansvieringe van WHS.

Die wedstryde begin môre en duur tot Dinsdag 21 Maart voort. Die fees het 'n vriendskaplike tema en daar is nie eindstryde of trofees op die spel nie.

Agt-en-dertig netbalspanne, 27 hokkiespanne, 22 sokkerspanne en 29 rugbyspanne het vir die Hennie de Waal sportfees ingeskryf. Die fees is vernoem na een van die groot geeste van hoërskolerugby in die land wat veral diep spore by HTS getrap het.

Met nagenoeg tweeduisend kinders as deelnemers is dit een van die grootste meerdaagse toernooie wat nóg deur 'n staatskool in die land aangebied is.

In al die sportkodes word geen beperking op die gebruik van plaasvervangers geplaas nie.

“Die seisoen (van wintersporte) begin met spelers, afrigters en skeidsregters wat almal nog effens verroes kan wees. Kom ons weerhou onsself van enige afbrekende aanmerkings teenoor spelers, afrigters of skeidsregters. Almal maak foute en ons weet foute sal gedurende die feeswed­stryde begaan word,” sê die organiseerders in 'n nuusbrief aan deelnemende skole.

“Gebruik hierdie geleentheid om taktiek, wedstrydplanne en so meer met opponerende afrigters en spelers te bespreek. Dis altyd goed om van andere te leer.”

Toegang vir alle volwassenes en kinders ouer as sewe jaar beloop N$10 per dag. Skoliere in hul amptelike skooldrag, asook kinders jonger as sewe jaar gaan verniet in.



RUGBY (by Vegkop-stadion)

Die deelname van Prince Edward van Harare in Zimbabwe verleen beslis 'n tikkie internasionale geur aan die o.19- en o.15-wedstryde.

Wedstryde in die onder 19- en o.15-kategorie word in twee helftes van 25 minute elk gespeel. Die onder 13's se wedstryde is 20 minute aan 'n kant.

Sondag is 'n rusdag, maar op die ander vier speeldae begin wedstryde soggens om sewe-uur en duur totdat die laaste wedstryd geskeduleer is om 22:00 voltooi te word.



Die deelnemende skole is:

Onder 19: Prince Edward (Zimbabwe); Jan Möhr I; Windhoek Affies I; Windhoek Gimnasium I en II; Walvisbaai Privaat Hoërskool; Pro-Ed Akademie (Swakopmund); HTS; Windhoek Hoërskool; Tsumeb Gimnasium.

Onder 15: WHS (A en B); Windhoek Gimnasium (A en B), Jan Möhr; Dr. Lemmer; Walvisbaai Privaat Hoërskool; Prince Edward (Zimbabwe); HTS; Windhoek Affies;

Onder 13: Windhoek Gimnasium; Orban; Pionierspark; Walvisbaai Primêre Skool.

• Die laataand “hoofwedstryde” om 20:50 is telkens in die onder 19-ouderdomsgroep, met die betrokke spanne soos volg: Môre: WHS tn Tsumeb Gimnasium; Saterdag: Pro-Ed tn Windhoek Affies; Maandag: Windhoek Gimnasium tn Prince Edward;

Dinsdag: WHS tn Walvisbaai.



HOKKIE (by Davin WHS Astro-baan)

Seuns- en meisiespanne ding beide in die eerste en tweede liga mee. Wed­stryde in die eerste liga duur 20 minute per helfte, terwyl tweedeligaspanne se helftes elk vyf minute korter is.

Elke dag se program begin reeds 06:40 en die laaste wedstryd is om 21:30. In die rondomtalie-formaat sal al die spanne dus een ontmoeting teen elke opponent hê.



Die betrokke spanne is:

Seuns eerste liga: Windhoek Gimnasium, St. Paul's, Pro-Ed Akademie (Swakopmund), Walvisbaai Privaat Hoërskool, Windhoek Affies, Windhoek Hoër­skool.

Meisies eerste liga: Walvisbaai Privaat Hoër­skool, St. Paul's, Windhoek Hoër­skool.

Seuns tweede liga: WHS B, Windhoek Affies, Edugate (Otjiwarongo).

Meisies tweede liga: Delta SS, Windhoek Gimnasium, WHS (A en B), De Duine, Windhoek Affies, Tsumeb Gimnasium, Namib High (Swakopmund).



NETBAL (by WHS-bane)

Kategorieë word vir onder 19's, o.17's, o.15's en o.13's aangebied. Wedstryde word in vier kwarte van 15 minute elk gespeel, behalwe vir die o.17's waar elke helfte tien minute duur.

Die betrokke hoërskole is Academia, Delta SS, Johannes Dohren Katolieke Skool (oos van Gobabis), St. Paul's, Windhoek Gimnasium, Windhoek Gimnasium, Combretum Trust School (Windhoek), Tsumeb Gimnasium, Walvisbaai Privaat Hoërskool, Windhoek Affies, Edugate (Otjiwarongo), Pro-Ed Akademie (Swakopmund), Dr. Lemmer, Oranjemund, Mokganedi Tlhabanello (Drimiopsis).

In die o.13-afdeling is Orban, Pionierspark, Windhoek Gimnasium en Walvis Primêre Skool en Pro-Ed die deelnemers.



SOKKER

Wedstryde word by die A- en B-skoolvelde van HTS gespeel en duur 30 minute aan 'n kant. Net die eind­stryd van elke ouderdomsgroep is 35 minute aan 'n kant.

Strafskoppe sal vanaf die tweede ronde (kwarteindstryde) gebruik word om die wenner te bepaal indien spanne gelykop eindig.

Plaasvervangers mag gedurende die wedstryd in die plek van vier spelers en 'n doelwagter opgestuur word.

'n Speler wat twee geel kaarte in 'n wedstryd kry, sal sy span se volgende wedstryd misloop. 'n Rooi kaart beteken dat die speler vir twee wedstryde nie gekies mag word nie.

Die deelnemende o.19-spanne is Oranjemund, HTS, Delta, Rocky Crest, WHS, Mokganedi Tlhabanello (Drimiopsis), Academia, Epako, Combretum Trust School (Windhoek), St. Paul's.

Die o.17-spanne kom van WHS, HTS, St. George's, St. Paul's, Johannes Dohren (naby Gobabis), Rocky Crest.

Daar is ook vier meisiespanne wat toegelaat is, naamlik WHS, HTS, St. Georg's en Delta SS.

Wedstryde begin soggens om halfagt en die laaste afskoptyd is om 20:10. Die sokkerprogram sluit Sondag af met die uitspeelwedstryde vir die derde plekke en die finale in die drie afdelings.

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer