Eerstewêreldprobleme

14 January 2020 | Rubrieke
Party keer is ryk mense se prioriteite so verkeerdom.

Mense in eerstewêreldlande leef soms met oogklappe in die wêreld wat so onderstebo is. Hulle is totaal onbewus van ons probleme, uitdagings en rampe.

Verlede week is ’n vliegtuig in Iran glo per ongeluk deur hul eie missiel afgeskiet met geen oorlewendes aan boord nie.

In Australië woed verwoestende veldbrande al sedert September met vele menselewens wat al geëis is. Duisende mense het hul huise verloor en nog meer moet vlug. Meer as 10 miljoen hektaar het al afgebrand en ’n miljard diere het al omgekom – tragies en hartseer.

Die onlangse welkome reën het verligting en lafenis vir Namibië gebring, maar daar is tog dele wat nog onder die droogte steier.

Daar is steeds duisende Namibiërs wat saans honger gaan slaap en nie ’n ordentlike dak oor hul koppe het nie. Duisende Namibiërs het steeds nie toegang tot skoon, lopende water en sanitêre geriewe nie. Weens ’n gebrek hieraan het Namibië ’n hepatitis E-epidemie.

Eerstewêreldlande het ander probleme as ons. Die arme Britte probeer nog oor Brexit kom, toe tref Megxit hulle.



In Brittanje gons dit oor Meghan Markle eers hul liewe prins Harry se hart gesteel het en hom nou van hulle wil wegrokkel.

Die paartjie het verlede week aangekondig hulle gaan as senior lede van die koninklike gesin uittree. Dít nogal sonder om dit eers met koningin Liesbet te bespreek. Hulle kondig dit sommer net so op sosiale media aan, ook dat hulle hul tyd tussen Brittanje en Noord-Amerika gaan verdeel. Hoe arrogant van hulle, sê die Ingelse.

Die koningin is glo in ’n toestand van teleurstelling en haar hart is seer. Arme ouma Liesbet het gedog 2019 was haar annus horribilis met haar lieflingseun, prins Andrew, wat by die seksskandaal van Jeffrey Epstein betrek word. Andrewtjie moes ook sy kantoor by die paleis ontruim.

Nou pluk Meghan en Harry die koningin se mat so vroeg in 2020 onder haar voete uit. Boonop is haar hoogsbejaarde man, prins Phillip, ook met een voet op ’n piesangskil en die ander een in die graf.

Almal “oe” en “a” en “sies tog” oor die koninklike drama.

Die Kardashians wik en weeg nog of hulle een van hul hordes miljoene dollar vir die dapper Australiese brandbestryders gaan weggee. Dis nou nadat een van die bedorwe Botox-susters vir haar eenjarige dogtertjie ’n diamantring vir Kersfees gegee het.

Geen celebrity oorweeg dit om vir Namibië se duisende armes, boere in droogtegeteisterde gebiede of teenstroperyveldtogte een dollar te gee nie.

Hulle weet nie eens waar Namibië is nie. Ons sit mos glo aan die agterkant van die wêreldatlas en suig aan die agterspeen.

Dis waarom ek nie veel ooghare vir ryk mense, veral snobs, koninklikes en celebrities het nie. Ek glo ook nie meer aan prinse op wit perde nie. Hulle het ook maar voete van klei.

Al prins wat ek ooit ontmoet het, was prins Willempie toe hy in 2018 in Namibië by ons en ons bedreigde swartrenosters kom kuier het. Ek wonder of hy weet dis ons eie staatsamptenare wat in die howe van renosterstropery aangekla word.

Die ander prinse wat ek ken, is die paddas wat my gesoen het en toe nie in prinse op wit perde verander het nie, maar dis eerstewêreldprobleme.

Soortgelyk

 

Covid-19: 5de nuwe geval binne 4 dae

15 ure gelede | Gesondheid

‘n Vragmotorbestuurder in Walvisbaai het gister positief vir Covid-19 getoets.Dit is die vyfde positiewe geval sedert Woensdag. Al die persone was in kwarantyn.Persone waarmee die...

‘80% van skole gereed’

3 dae gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht – Sowat 80% van die 1 920 staatskole oraloor in die land is gereed om leerlinge volgens verpligte gesondheidsregulasies te ontvang wanneer hulle...

Nog leerlingdokters wag om uitgeplaas te word

3 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Meer as 100 leerlingdokters wag glo reeds maande om vir internskappe by staatshospitale oraloor in die land uitgeplaas word. Die 166 leerlingdokters...

Stadspolisie van hardhandigheid beskuldig

3 dae gelede | Misdaad

Denver Kisting – ’n Inwoner van Groot Aub, mnr. Richard Davids, voer aan ’n beampte van die stadspolisie, waarnemende sersant Erwen Katiti, het hom Dinsdaglaatmiddag...

Weer vir 22 Mei 2020

3 dae gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltleik bewolk en warm in die streke van ||Kharas en Hardap. Elders sal dit sonnig en warm tot baie warm wees.KUS: Gedeeltelik bewolk en...

‘Vervoer van drank nie ’n misdaad’

3 dae gelede | Misdaad

Francoise SteynbergDie blote vervoer van drank is nie ’n misdaad nie en kan nie as redelike gronde gebruik word vir agterdog van die koop of...

Vroue in kwarantyn toets positief vir Covid-19

3 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Twee vroue het in kwarantyn positief vir Covid-19 getoets. Dit bring Namibië se totaal bevestigde Covid-19-gevalle op 18 te staan. Volgens die...

Ebikes: vinnig, goedkoop en groen

3 dae gelede | Mense

Tanja Bause Nie te veel besighede kan sê dat hulle in die Covid-19-tyd so goed aangepas het dat hulle nuwe werknemers moes aanstel nie. Ebikes4Africa...

Market Watch Covid page - snippets

3 dae gelede | Gesondheid

The Namibia Football Association (NFA) executive committee has yet to decide what to do with funds it expects to receive from the Federation of International...