Eerste Namibiër tem Alpe (of liewer, oorleef)
Die Windhoeker het die Orsières-Champex-Chamonix-roete van 55 km sonder klimstokke in die Alpe binne 8 uur 13 minute voltooi, om 127ste in sy afdeling van 1 605 deelnemers te eindig.
Tielman van Lill - Die 37-jarige Kyron Raad van Windhoek het geskiedenis gemaak toe hy onlangs die eerste Namibiër geword het wat die jaarlikse moordende Ultra-Trail du Tour du Mont-Blanc-byeenkoms suksesvol voltooi het, waar hy aan die 55 km-afdeling deelgeneem het.
Raad wat in 65 km-ultramarathonne spesialiseer, is sover die enigste Namibiër wat vir die wêreld se top ultramarathon in Switserland en Frankryk kon kwalifiseer en dit boonop suksesvol voltooi het.
Die 55 km-lange Orsières-Champex-Chamonix-roete kronkel 3 600 meter die dun lug in en word wyd as een van die moeilikste voetrenne ter wêreld gereken. Vanjaar se hittegolf in Europa, gepaard met humiditeit, het sake vir die atlete verder bemoeilik en 131 deelnemers moes weens uitputting halt roep.
Raad sê sy ervaring vroeër vanjaar in die Drakensberge was ’n vulletjie teen wat die Franse en Switserse Alpe inhou. Hy spog dus graag met 620 punte op die International trail Running Association (ITRA) se ranglys.
“Ek het baie lesse geleer. Dit was ’n goeie dag vir my, maar die klimme was baie steil en baie lank. Ek het nog nooit so iets in my lewe gesien nie en dit was selfs nog meer skrikwekkend as wat ek kon droom.
“Ek het sonder klimstokke die ren aangepak, maar het nou my les geleer. Volgende keer sal ek sorg dat ek dit gebruik, want in die Alpe is dit van absolute kardinale belang.
“Meer as 90% van deelnemers gebruik klimstokke. Ek het dit vooraf geweet, maar wou nie aan my plan karring nie en het baie gesukkel. Die stokke help baie teen die klimme uit en help om jou bene te spaar waar jy bykans die ganse wedloop naby jou maksimum hartklopsone beweeg.
“Die hitte was versengend en die hoë humiditeit van 90 persent het my energie getap. Ek moet erken die Europeërs wat gereeld aan dié tipe moordende uithourenne deelneem, is van ’n totaal ander kaliber as waaraan ek gewoond is. Dit sluit die vroue in.
“Dit was nogtans vir my ’n ongelooflike ervaring en die steun van toeskouers langs die roete was fantasties. Hoewel ek dit nie kan onthou nie, het ek langs die roete foto’s en video’s geneem op die Le Tseppes-deel na die Franse en Switserse grensposte.
“Klimdele soos Le Giete, Champex Lac, Les Tseppes en Le Flagere is monsters. Ná Le Giete het ek besef dat ek my pas sal moet verslap, want ek wou nie myself teen die 3 600 meter-lange klimme uitbrand nie.
“By die 43 km-merk het ek weer my ritme gevind om in ’n respektabele tyd van 8 ure 13 minute saam met 216 van die wêreld se bestes te eindig. Die 55 km in afstand is geen maatstaf nie, want die klipperige steiltes wat met sewe tot nege kilometer styg en daal, hou net aan en aan.
“Dit was ’n groot leerskool en ek is trots om die eerste Namibiër te wees wat vir dié uitdaging kon kwalifiseer. Na dese is ek beslis meer ervare en dink daaraan om volgende jaar die 100 km met klimstokke te pak.
“Ek het ’n goeie kans om te kwalifiseer en wil die Drakensberg-ultra van 62 km, asook die Kaapstad ultra-uitdaging (62 km) doen om punte te verdien om te kan kwalifiseer. Ek moet dit binne ’n week vermag. My agtste posisie met die Drakensberg-ultra vroeër vanjaar met 636 punte was my beste sover.
“Gondwana het my deelname aan hierdie besonderse ervaring moontlik gemaak en ek gebruik graag die geleentheid om Gondwana vir hul ondersteuning te bedank,” het Raad gesê.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie