Eers wil hy, dan wil sy nie
Eers wil hy, dan wil sy nie

Eers wil hy, dan wil sy nie

[email protected]
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Liewe leser

Hierdie is byvoorbaat ’n waarskuwing dat as die bye en die blomme (figuurlik gesproke) en jou Wat meisies/seuns wil weet –eksemplaar jou bloesend van skaamte gelaat het, jy maar eerder moet verby blaai na die kriekettelling op die agterblad of die markaanwysers in Market Watch. Jy is dus gewaarsku.

Dié skrywe gaan oor hygromans of “bodice rippers” as jy dan nou in Engels vry – of jy dit in skaamte onder die Hoe gemaak met jou tiener? en jou Dagstukkies vir ’n Vrou wegsteek en of jy bloots en oop jou vyf-in-’n-pak in jou mandjie laai.

In Afrikaans word dié fiksie as ’n hygroman uitgesonder wat die woordeboek so rukkend verwoord as ’n “vuurwarm, grafiese liefdesverhaal” of meer in Barbara Cartland- en Ena Murray se styl, romantiese fiksie.

As grootse ondersteuner van “gewone” Afrikaanse romans en digbundels, moet ek bieg ek sukkel so bietjie met die hyg-konsep. Hyg is as jy op hoërskool eers vyf keer om die atletiekbaan moes draf voor jy aan ’n netbalbal mag raak. Jy is wel hygend en klam van die inspanning, maar dis meer vermoeienis as wat dit lus is. Snak sou myns insiens ’n beter beskrywing wees. Erken nou maar ’n snakroman klink beter en meer vol potensiaal as iets wat jou gaan laat hyg veral as jy jou spesiale boek vir laatnag bêre as die res van jou gesin slaap.

Niemand wil haar eggenoot of die honde en bure met ’n gehyg wakker maak nie, dis vir mense (en hul dinge) wat nie veel respek vir stilte en persoonlike ruimte het nie. Gewoonlik dié wat ook reg langs jou stop om visstokke en kampstoele uit te haal en Kurt en Ray en Juanita se grootste treffers oor die branders laat dreun. . . dit terwyl daar myle se see en sand oop is. . .

Terug na hyg. ’n Afrikaanse snakroman (of twee) het ook al op my bedkassie beland. Grote Griet. Om een of ander rede klink dit net nie dieselfde as Johan en Susan mekaar op die kombuistoonbank langs die Kook en Geniet en die geraamde familiefoto van ’n Kersfees op Hentiesbaai mekaar gryp nie. Ek swymel net nie met begeerte om soos Johan en Susan te maak nie.

Maar as dit nou ’n Logan en ’n Beth of ’n hertog en ’n sosiale vlinder iewers in die 1800’s is, wel, dis ’n snak van ’n hele ander aard. Ter illustrasie die reeks op die betaalstroomdiens wat die betaalkanaal opdraand gee en waarin die broeiende Simon Basset, die graaf van Hastings die bloswang blonde Daphne Bridgerton wel, op verskeie plekke (letterlik bedoel) beetkry.

Toe die twee uiteindelik op die aand van hul huweliksnag besef maar hulle wil meer as vriende wees wat in die park gaan stap en ligtelik korswel, kyk broeiende Simon vir blonde blos Daphne en sê skor (Afrikaanse snakromans is báie lief vir ‘skor van emosie’ eerder as hees...) “I burn for you”. Wat daarna volg, is wel, vir grootmense se behoeftes.

Stel jou nou voor Susan staan in die kombuis voor Johan en sê “Ek brand vir jou!”. “Het die kos aangebrand?” wonder Johan. “Het sy sooibrand?” “Het sy ’n aansteeklike siekte?” “Moet ek die brandblusser gaan haal?,” flits dit alles deur Johan se gedagtes wat eintlik net meer as vriende wil wees en sukkel om te kies tussen Susan, die blusser en “citro soda”.

Jammer, maar romanse en geslagsgemeenskap klink en lees maar net nie soos dit moet in Afrikaans nie. Ek volstaan daar is min dinge wat so goed is vir jou soos ’n boek of jy dit met ’n “burn” of ’n brand wil hê. Dis die vir ’n wyle wegvlug, die fantasie, maar ook die wete dit moet, gaan en sal “mooi” eindig.

Oupa Lag het ouma Vlam se soentjieboeke soos volg opgesom: “Eers wil hy, dan wil sy nie. Dan wil sy, dan wil hy nie. En dan wil al twee en dan is die boek klaar.” Juis.

Kommentaar

Republikein 2026-06-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer