Eerder dood as terug in hierdie hospitaal

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – As hulle sê ek moet kies tussen doodgaan en weer teruggaan, kies ek eerder om dood te gaan.

So sê 'n 55-jarige kankerlyer van Tsumeb wat drie nagmerriedae in die Onandjokwe-staatshospitaal moes deurbring.

“Ek het hoenderhokke gesien wat skoner is as dit,” sê mnr. Rudi van Ginkel wat met leukemie gediagnoseer is en vir 'n mediese ondersoek na dié hospitaal gestuur is wat nie op Tsumeb gedoen kan word nie.

Van Ginkel is Woensdag per ambulans na die hospitaal geneem waar hy die volgende dag die prosedure sou ondergaan en dan weer Vrydag na Tsumeb sou terugkeer.

Met sy aankoms by die hospitaal het hy “drie ure” op 'n bankie deurgebring, omdat personeel hom nie as 'n noodgeval beskou het nie.

Hy vertel hy het later in sy verswakte toestand na die buitetoilette gegaan “wat jy net sowel kan toespyker en los”. Hier het hy geval en sy arm seergemaak wat die suster wat saam met hom per ambulans gereis het, skoongemaak en verbind het. Dié suster moes ook vir hom 'n bed kry en sy drup insit.

Volgens Van Ginkel is daar “kakkerlakke by die miljoene wat bo-oor jou en alles kruip” en omdat daar geen muskietnette is nie, “dra die ­muskiete jou weg”.

Toe hy by 'n dokter oor die kakkerlakke kla, het dié glo vir hom gesê “om my oë toe te maak en aan iets anders te dink”. Daar is ook glo net twee toilette, maar wat glad nie kan spoel nie.

“Dit bly heeldag so vol soos mense dit gebruik tot vanaand 04:00 wanneer die skoonmakers kom om dit te spoel. Dan is dit klaar vir die res van die dag.”

Bedpanne word ook glo nie skoon­gemaak nie, met die stank wat volgens Van Ginkel onuithoudbaar is.

“Siek mense langs jou se mae word ge'flush' vir 'n operasie die volgende dag waar jy sit en eet.”

Met verwysing na die kos sê Van Ginkel die vleis was so taai, hy kon dit nie met 'n mes en vurk sny nie, “ek het eenvoudig nie die krag daarvoor gehad nie”.

“Ek het vir drie dae niks geëet of geslaap nie.”

Die badkamers het geen plafonne nie, of dit is stukkend, daar is geen spieëls by die wasbakke nie en “jou voete sny op die stukkende vloer­teëls”. Daar is ook nie enige warm water beskikbaar nie.

Van Ginkel is Vrydag laat weet daar is nie 'n ambulans beskikbaar om soos beloof hom terug te neem Tsumeb toe nie en dit sou eers weer Maandag ­beskikbaar wees.

“Ek kon dit eenvoudig nie 'n dag langer uithou nie en is met 'n taxi huis toe. Dit is walglik en onhigiënies. Ek is in vir 'n toets en uit met 'n amper gebreekte skouer”.

[email protected]

FOTO’s
"Miljoene" kakkerlakke is die hele hospitaal vol. FOTO'S VERSKAF

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer