Eer Theo-Ben se nalatenskap
Eer Theo-Ben se nalatenskap

Eer Theo-Ben se nalatenskap

Denver Kisting
Ronelle Rademeyer - Die bekende Britse politieke skrywer van die 19de eeu, Walter Bagehot, het gesê 'n groot staatsman is iemand wat oor gewone sienings, maar buitengewone vermoëns beskik.

Só 'n mens was wyle dr. Theo-Ben Gurirab.

Namibië eer sy nalatenskap – nie net vir sy rol as grondwetskrywer en die proses waardeur ons republiek sy outonome beslag gekry het nie.

Ons eer ook sy nalatenskap vir sy voorbeeld. Sy waardigheid as 'n diplomaat, staatsman en politikus, sy skerp intellek en sy werksetiek is eienskappe wat ware leiers van gewone politici onderskei.

Dit is goed en gepas dat die Theo-Ben Gurirab-lesingreeks wat deur die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking aangebied word, verlede jaar beslag gekry het.

Dit moedig die publiek aan om betrokke te raak by die vorming van die buitelandse beleid en stimuleer debat oor belangrike globale kwessies.

Een van die groot gevare waar­teen enige nasies behoort te waak, is die vervlakking van die nasionale diskoers en die trivialisering van kritieke kwessies.

In 2003 het Gurirab, wat toe eerste minister was, in 'n onderhoud aan Republikein gesê die fundamentele beginsel van die demokrasie is “regering van die mense, vir die mense en deur die mense”.

“Leiers is vir hul voortbestaan van die mense van die land afhanklik. Ons moet leer om in die openbare belang op te tree wat beteken dat ons ons deur die nasie moet laat lei,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg “harde werk het nog nooit iemand doodgemaak nie”. “Harde werk bou beskawings. Deur harde werk kan Namibië 'n ryk, vooruitstrewende nywerheidsland word waar demokrasie gedy.”

Laat hierdie woorde Namibië en sy mense rig.



So sê ander

Netwerk24, 16 Julie 2018

Trump skaad Amerika se aansien

Het dit al ooit tevore gebeur dat 'n staatsman die regeringshoof van sy naaste bondgenoot (waar hy boonop as gas op besoek is) so in die rug steek?

Dít is presies wat pres. Donald Trump van Amerika enkele dae gelede met sy gasvrou, premier Theresa May van Brittanje, gedoen het.

En dít boonop op 'n tydstip dat sy polities taamlik verswak is deur die rusie oor Brexit in haar Konserwatiewe Party.

May het die kwessie koel en professioneel in die openbaar gehanteer.

Sy het gewys sy verstaan die uitspraak van lord Palmerston, een van haar verre voorgangers uit die 19de eeu: “Moondhede het nie permanente vriende nie; slegs permanente belange.”

Die probleem met Trump se voorhamer-benadering tot internasionale politiek is dat hy op die duur groot skade aanrig – aan die internasionale politieke stelsel, maar ook aan Amerika se statuur en aansien in die wêreld.

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer