Eenvoud is tog maar mooi
Eenvoud is tog maar mooi

Eenvoud is tog maar mooi

[email protected]
Leandrea Louw
Leandrea Louw

Ek en my kêrel van die afgelope vyf jaar het ’n tydjie gelede die knoop deurgehaak. Niks deftig nie, ons het sommer in die hof getrou.

Die twee weke wat gelei het tot op daardie Vrydag was net deur Onse Hemelse Vader bestuur. Ons hoftroue sou oorspronklik eers 17 September gewees het, maar weens ’n kansellasie het 25 Junie beskikbaar geraak.

En vir my het dit nie gegaan oor wat ek aanhet nie, maar ek beloof ewige trou aan die liefde van my lewe, die pa van my kind.

Ek kon nie gelukkiger wees nie. Ons het dit ook “Facebook-official” gemaak. Ek’t ’n “life event update” gedoen, en summier my van verander. Dis mos nie heeltemal offisieel voordat dit nie op Facebook is nie, of hoe?

Fast forward na ’n paar dae later, en ons word nog steeds gelukgewens, en ons ‘Got married’-plasing word wyd en syd gedeel. Ek is heeltemal stomgeslaan.

Die meederheid van die mense wat die plasing deel, deel dit met die byskrif “Ek wil net so iets hê, jy hoef nie ’n N$100 000 se troue te hê nie”, en “Sy lyk so gelukkig”.

En ja, ek was. Ek is nog steeds. En ek wil dit nie anders hê nie. Ons het nie fancy outfits gehad nie, dit was net ek en my liefde, en ons twee getuies. Dit was meer as genoeg.

Dit het nie oor my ouers, of vriende gegaan nie, maar oor ons twee. Ek en hy gaan hierdie pad saamstap tot in lengte van dae. Ek en hy sal dag en nag aan ons huwelik moet werk. En om ’n N$100 000 se troue te hou waar ons mense nooi wat nie eers eintlik bly vir ons is nie – nee. Nope. Dit sou net nie gewerk het nie.

Hierdie eenvoudige troue voor die hof in my blommetjiesrok en pienk hakskoene was genoeg vir my. Ek redeneer sobiso ook, ek is nou al vir vyf jaar, gelaybuy, dus was dit tog tyd. Hoe sê die ou mense, die melk raak suur, of so iets.

Maar nogtans, dalk sal ons later die hele “white wedding” doen, maar vir nou was dit meer as genoeg.

Om nou by die punt te kom, wil ek net vir jou sê, liewe leser – do you. Doen wat vir jou gelukkig maak, en nie die mense rondom jou nie. As jy onseker is oor iets, bid daaroor, en ek glo Onse Hemelse Vader sal jou die regte antwoorde gee, want dit is net Hy wat ons paaie kan gelyk maak.

Ek is oneindig dankbaar vir al die seën wat oor ons huwelik uitgespreek is, en ek sien uit na die nuwe seisoen in my lewe.

Ek het nooit gedink om iets so eenvoudig te doen – in ’n tyd waar tradisie nog ’n groot rol speel – sal soveel reaksie uitlok nie. Maar ek dink tog ek en my man het vir die mense daar buite gewys dat eenvoud mooi is en dat tradisies nie “carved in stone” is nie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer