Eenders, maar anders
Trogir, sentrale Kroasië
Pedro Vorster
Net nog ‘n dorpie met oranje teëldakke. Weer die beheptheid met ou, geskiedkundige geboue. Soos vele kusdorpe propvol toeriste-lokaas. Vir die soveelste maal volg ons op die hakke van Game of Thrones se verfilmingsplekke. En die Adriatiese see bly helder. Aanloklik. Onskuldig. Wys, eerlik, maar arm – alles wat dit het.
Wat maak Trogir, ‘n antieke Kroatiese eilanddorp, dan so besonders? Hoekom enigsins die brug kruis van die vasteland na dié eiland en daar gaan soek na iets meer? Iets anders? Insig in ‘n ander eeu? ‘n Unieke leefwyse?
Dit ís so, al langs die Kroatiese kus is daar honderde soortgelyke baaitjies en huisies en ou Romeinse ruïnes en oorblyfsels van ouer beskawings, maar tog.
Die eilanddorpie verskil van die gewone weens sy bewaarde argitektuur. Raakgesien deur Unesco se Wêreld- Bewaringsorganisasie word dit tot wêrelderfenisgebied verklaar.
Hul motivering: ”Die oorspronklike straatplan van die nedersetting dateer uit die Hellenistiese tydperk (met ander woorde die Grieke was eerste hier) en is deur opeenvolgende heersers versier met besondere openbare geboue, asook versterkings.
“Die pragtige Romeinse kerke word gekomplementeer deur die uitstaande Renaissance- en Barok-geboue van die Venesiese era.”
Hulle prys verder die getroue stilistiese voorbeelde van die Gotiese argitektuur.
Nou geen Venesië nie, maar darem. Weer stap ons in nou stegies op plaveisel glad verweer deur eeue se skoeisels. Winkeltjies met ywerige verkoopsdames staan so desperaat depressief rond met onderhandelbare afslag. In die maer toeristeseisoen van laat April heers die koper.
Hier is ‘n beeld van die langhaar Griekse god Kairos. Hy is die man van die vlietende oomblik. Vinniger as die wind bied hy jou slegs ‘n enkele kans. As jy hom aan die hare kan beetkry, is jy gelukkig vir die res van jou lewe. Tas jy hom mis, dryf hy, min gepla, kommerloos voort in sy stroom van geluk.
Prinses Caroline van Monaco kom kuier blykbaar elke jaar in Trogir. Soek sy die Griek? Heel waarskynlik val sy eerder in by die wêreldberoemde kleremaker Gena. Onder ‘n paar van sy kliënte tel Placido Domingo en Armand Assante.
Die sentrale dorpsplein het al die ou stylgeboue in ‘n neutedop. Die tipiese gepunte boogvensters van die Chipiko-paleis, ‘n grasieuse Renaissance-element, is ‘n klipgooi van die Romeinse loggia, circa 11de eeu.
In een binneplaas word die 15de eeuse Romeinse stoeppilaar bederf deur die elektriese kabel wat sommer so traak-my-nie-agtig om die fyn kapiteel gedraai is. Die historiese stegies loop ook deur (en jy loop onderdeur) die oorhoofse kragkabel-spaghetti.
Verder, op die suidwestelike kaai, staan die dop van die Kamerlengo-kasteel en -fort, gebou in 1420. Die fort en kasteel is ‘n stel vir die GoT-televisiereeks. Die N$40-toegangskaartjie vir ‘n besoek aan die fort se gestroopte binnekant sal seker billik wees vir verslaafde kykers en sal hulle kunsmatige déjà vu flitse gee.
Aan die suidpunt van die Obala Bana Berislavica-promenade, waar ‘n tweede brug Trogir met die eiland Ciovo verbind, kan toeriste aan boord gaan vir die gewone bootritte en ‘n buitegewone semi-duikbootvaart.
As jy geld in die water wil gooi, so N$180 vir ‘n uur lange trippie, doen dit in die rooi kwasi-duikbootjie. Neem kennis, die vaartuig gaan nooit onder water nie, en is bloot ‘n oulike boot met glasbodemvensters. Ongelukkig maak die karige seelewe die ritte vervelig vir baie toeriste. Hul resensies vir die semi-duikvaarte is brutaal negatief.
Namibiërs hou van praat en gekskeer – veral as hulle op reis is. Dit is een groot verskil tussen ons en die ernstige Kroate. Die bruusk klomp is nie met vakansie nie en het nie tyd vir grappies nie.
Darem nie altyd nie.
Die mense ontdooi hoe verder ons suidwaarts reis, waar die klimaat ook warmer is. Teen die tyd dat ons Dubrovnik bereik, die suidelikste stad in Kroasië, is vriendelikheid ‘n daaglikse verskynsel, selfs al skyn die son nie.
Dit, of ons raak die Kroate gewoond.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie