Een dag op 'n slag
Hande op . . . wie is opgewonde oor hul Nuwejaarsvoornemens?
Die eerste dag van Januarie is mos die dag waarop die mensdom 'n Red Bull afsluk en op wonderbaarlike wyse elke aspek van ons lewens begin regruk.
Ek gaan hierdie jaar elke oggend vieruur opstaan. My swart sokkies in alfabetiese volgorde rangskik. Honderd boeke lees en elf boeke skryf. Duisend marathons hardloop. My “tuin” in 'n lushof van vrugtebome, eksotiese blomme en speserye omtower.
En op die tweede dag (die voormiddag) gaan ek antieke Grieks, gholf en die klarinet bemeester.
Oor my planne vir die namiddag is ek nog onseker. Dis nou nie asof ek die vader van ambisie is nie.
Maar ek gaan definitief die nuwe jaar sonder 'n sent skuld afsluit en al my slegte gewoontes van die laaste twee of drie dekades met wortel en tak uitroei.
Nou moet ek toegee dat op die eerste twee dae van 2019 wel nie veel verander het nie. Ai, so nou is ek agter skedule. Dalk moet ek maar in 'n goeie rusbank belê, my energie spaar en in 2020 weer probeer.
Of 'n mens kan wegdoen met die term “voornemens” en dit vervang met “terloopse beloftes aan myself wat ek onder geen wetlike verpligting is om uit te voer nie”.
Of dalk moet ek maar terugval op die ou staatmaker voorneme dat ek hierdie jaar wéér nie gaan begin rook nie.
(My laaste halwe sigaretjie, wat toevallig ook die eerste een was, is gerook toe ek ses jaar oud was. 'n Ware verhaal. Dit was nadat my strategies denkende ma vir my 'n pakkie gekoop het en gesê het sy sal sommer wag terwyl ek dit klaarmaak. Daarmee het sy permanent klaargespeel met haar oudste seun se cowboy-fantasieë wanneer hy stompies op straat opgetel het.)
Maar ek dwaal af.
Nuwejaar, asook jou verjaarsdag, dien vir elke mens as 'n persoonlike mylpaal om voorraad op te neem en oor jou lewensdoelwitte na te dink. En te droom.
Die onmoontlikste van alle “drome wat waar geword” het, het begin met 'n enkele gedagte, wat ontwikkel het in 'n idee en daarna 'n besluit. Voornemens kan mos pret wees en dit kan ook nie skade doen om dit soos 'n speletjie te benader nie, sê een kenner.
Om gesond te eet, gereeld te oefen en na jou finansiële en geestelike welstand om te sien, behoort eintlik teoreties reeds deel van jou daaglikse leefwyse te wees.
'n Mens is geneig om te oorskat wat jy binne een dag kan regkry, en terselfdertyd te onderskat wat jy oor 'n langer tydperk van “een dag op 'n slag” kan bereik. Net omdat jy nie binne een dag alles perfek kan doen nie, behoort nie 'n verskoning te wees om wel die eerste tree te gee nie.
Elke suksesstorie het sy eie unieke stukkies pure geluk en kan dus nie prakties deur die volgende persoon herhaal word nie. 'n Mens kan dus aanvoer dat geen ghoeroe werklik “die antwoord” vir enigiemand anders het nie.
'n Idee met eindelose moontlikhede is om nie net op jou eie voornemens te fokus nie, maar om iemand anders te help om 'n droom te bewaarheid – jou lewensmaat, jou ouers, kinders, 'n vriend, 'n welsynsprojek of selfs 'n wildvreemdeling. Koppel 'n gesig aan jou voorneme en jou kanse om dit te volvoer, vermenigvuldig.
Enige voorneme wat terselfdertyd jou gemeenskap beter maak, groot of klein, kring uit en maak dinge vir almal makliker.
Nóú voel ek so gemotiveerd, ek dink ek moet bietjie gaan lê tot die gevoel weggaan.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie