Eddie vat pak nu00e1 Skotte sy Engelse Rose pluk
Eddie vat pak nu00e1 Skotte sy Engelse Rose pluk

Eddie vat pak ná Skotte sy Engelse Rose pluk

Rugby
Andrew Poolman
“Dié nederlaag sal by my spook.” So het Eddie Jones, afrigter van die Engelse rugbyspan, gereageer nadat sy span Saterdag op Twickenham met 6-11 teen Skotland verloor het.

Die Skotte het gróót geskiedenis gemaak, deur vir die eerste keer sedert 1983 op Twickenham met Engeland af te reken. Die verskil op die telbord was 'n vyfpunter deur die Suid-Afrikaanse makro-vleuel Duhan van der Merwe, wat in sy sesde toets vir Skotland sy vierde toetsdrie gaan druk het.

Die wedstryd het ook die 150 jaar sedert Skotland en Engeland se heel eerste kragmeting, in Edinburg in 1871, gedenk. Die Skotte het destyds ook daardie wedstryd gewen.

Jones het verantwoordelikheid vir die Engelse se nederlaag aanvaar, want volgens hom het hy sy span nie goed genoeg voorberei nie.

“Ons het een van daardie dae beleef. Dit gebeur nie baie nie, maar ons hét 'n afdag gehad,” het hy gesê.

Sy span het inderdaad verroes gelyk. Hulle kon nooit met dieselfde oortuiging as die Skotte oor die voordeellyn kom nie, het 15 strafskoppe afgestaan en die agsteman Billy Vunipola vir 10 minute in die koelkas sien sit.

Gregor Townsend, Skotland se afrigter, was verheug. Meer van wat hulle Saterdag opgedis het kan verwag word, het hy gewaarsku.

“Tuiswedstryde maak eintlik nie meer saak nie. Noudat ons die juk van Twickenham afgeskud het, sal ons selfvertroue net groei,” het Townsend gesê.

Vir die Skotte was Van der Merwe, die heelagter en kaptein, Stuart Hogg, die jong senter Ian Redpath (wie se pa Bryan jare lank vir die Skotte gespeel het) asook die hele pak, vuurwarm.

“Ons het die afgelope paar weke baie daaroor gepraat om hand op te steek . . . en ek glo ons het dit reggekry,” het 'n uitgelate Hogg gesê.



FRANSE HOL OOR ITALIË

Die Franse afrigter Fabian Galthie het ná sy span se wegholsege van 50-10 oor Italië in Rome gesê die Hane is “op 'n goeie plek”.

Die Franse, wat laas in 2010 die Sesnasiesreeks kon wen, het danksy ondernemende spel sewe puik drieë gedruk.

“Ons was doeltreffend, hoewel ons op 'n paar dinge kan verbeter. Ons het 'n goeie week nodig om voor te berei, want volgende Sondag pak ons Ierland in Dublin. Dit sal nie dieselfde atmos­feer wees nie,” het Galthie gesê.

Italië het sy 28ste agtereenvolgende nederlaag in die Sesnasiesreeks gely.

Hul Suid-Afrikaanse afrigter Franco Smith se veldtog om 'n jong span te smee, het rampspoedig begin.

Die Franse se grootste uitblinker was die skrumskakel Antoine Dupont, wat ná die wedstryd uit verskeie oorde as die beste huidige skrumskakel in wêreldrugby gesalf is.

– Netwerk24, The Scotsman & Rugby365.com

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer