Edcon hoop Kersvader dra lipstiffie
Edcon hoop Kersvader dra lipstiffie

Edcon hoop Kersvader dra lipstiffie

Edgars se verkope het in die kwartaal met 6,8% van R2,4 miljard in die ooreenstemmende kwartaal van verlede jaar tot R2,2 miljard gedaal.
Jo-Mare Duddy Booysen
Nellie Brand-Jonker



As Bernie Brookes, baas van die Edcon-groep, sy sin kry, sal Kersvader vanjaar veral lipstiffies uitdeel.

Dis te sê as Kersvader gaan hou van die promosies wat beplan word in Edgars- en Red Square-winkels.

Edcon het Dinsdag met die uitreiking van sy resultate vir die tweede kwartaal van sy boekjaar – tot 24 September – gesê groot advertensieveldtogte vir Edgars en Jet gaan ook afskop in afwagting op sy belangrikste handelstydperk – die drie maande tot Kersfees.

''n Derde van sy jaarlikse verkope vind in dié kwartaal plaas.

In die huidige boekjaar is die terug-­skool-toe-veldtog ook baie belangrik vir Edcon en dit gaan ''n belangrike fokuspunt wees in Edgars, Jet en CNA.



Uitverkopings laat wins skerp verlaag

Dié inisiatiewe is belangrik, want die winkelgroep het pas uit ''n kwartaal gekom waarin sy wins skerp afgetrek is deur aggressiewe uitverkopings om voor die belangrike handelstydperk ou voorraad van die rakke af te kry.

Brookes sê veral Edgars het in die afgelope kwartaal meer uitverkopings gehou.

Dit het egter nie sy verkope aangehelp nie. Edgars se verkope het in die kwartaal met 6,8% van R2,4 miljard in die ooreenstemmende kwartaal van verlede jaar tot R2,2 miljard gedaal.

Uitgesluit nuwe winkels wat in die afgelope boekjaar geopen is, het sy verkope met 8,5% gedaal.

Die syfers is veral deur kredietverkope, wat baie belangrik is vir Edgars, afgetrek. Dít het met 14% gedaal.

Edcon sukkel met kredietverkope nadat sy verbruikerskuldboek in 2012 aan Absa verkoop is. Die bank is meer konserwatief met die toestaan van krediet.

Boonop het die bekostigbaarheidsregulasies van die Nasionale Kredietwet wat verlede jaar in werking getree het, ook ''n negatiewe impak gehad. Brookes sê dié impak word geraam op R159 miljoen in die kwartaal.



Rekeninghouers daal

Die getal rekeninge wat klante by Edgars het, het met byna 11% tot 2,9 miljoen gedaal van 3,3 miljoen.

Die bruto winsmarge in Edgars het van 39,6% tot 36,9% gedaal. Dit is toegeskryf aan die impak van die swakker rand op die prys van ingevoerde goedere.

Edcon besit ook Jet en Jetmart.

Ook hier het verkope in die kwartaal met 5,5% gedaal van R2,1 miljard tot R2,03 miljard. Dit is ook toegeskryf aan kredietverkope wat skerp – met 20,7% – gedaal het.

Dié afdeling se bruto winsmarge het van 32% tot 25,7% gedaal weens die aggressiewe uitverkopings om ou voorraad voor die feestyd van die rakke af te kry.

In sy afdeling wat CNA, Red Square en Boardmans insluit, het verkope met 6,8% tot R1,2 miljard gedaal, en uitgesluit nuwe winkels met 9,8%.

Ná winkelkoste en ander bedryfskoste en sy deel van die wins van sy versekeringsake, het die Edcon-­groep se handelswins van R161 miljoen tot ''n verlies van R614 miljoen gedaal.

''n Netto wins is getoon nadat sy finansieringskoste skerp gedaal het.

Edcon is in die proses om deur sy krediteure en finansiële beleggers oorgeneem te word.

Die maatskappy is tien jaar gelede gedenoteer toe ''n Amerikaanse fondsbestuurder die aandeelhouers uitgekoop het in ''n skuldgefinansierde transaksie.

Edcon se netto skuld het in die afgelope kwartaal met 4% tot R27 miljard gedaal vergeleke met die ooreenstemmende kwartaal ná die herfinansiering wat in November en Desember verlede jaar onderneem is.



Oorbruggingsfinansiering

In April vanjaar het Edcon die steun van sy krediteure gekry om R1,6 miljard se skuld wat terugbetaal moes word, uit te stel.

Hy het intussen ook oorbruggingsfinansiering gekry om hom aan die lewe te hou.

Sy Legit-kettingwinkelreeks is in September vanjaar vir R637 miljoen verkoop.

Brookes verwelkom die besluit van die Mededingingskommissie om die oorname aan die Mededingingstribunaal aan te beveel sonder enige voorwaardes.

Die transaksie vind deur ''n reëling­skema plaas en hy verwag dit sal vroeg in 2017 afgehandel word. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-11-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer