ECN bieg oor verdwene EVM’s

Die nasionale kiesliggaam erken daar was ongerymdhede met die leen van stemtoestelle aan Swapo in 2017.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het gister gebieg hulle het nooit ’n strafregtelike klag by die polisie ingedien oor ’n aantal stemtoestelle wat in Swapo se besit verdwyn het nie.

Boonop gee die kiesliggaam toe hulle het hul eie administratiewe protokol ondermyn “deur ’n eksterne organisasie toe te laat om sensitiewe verkiesingstoerusting te vervoer”.

Hoewel adv. Notemba Tjipueja, die voorsitter van die ECN, in ’n volbladadvertensie aanvoer Swapo het “sedertdien die vereiste bedrag aan die ontvanger van inkomste as betaling vir die verdwene EVM-eenhede betaal”, maak sy geen melding van hoeveel wanneer betaal is nie.

Sy werp eweneens geen lig oor hoekom die ECN vir langer as twee jaar oor die verdwyning geswyg het nie.

Volgens Tjipueja het “die span wat die verkiesingstoerusting vervoer het, agtergekom dat twee stemeenhede van die wa af geval het en die voertuig tot stilstand gebring om die stemeenhede op te tel”.

Sy sê nie of “die span” toe die twee eenhede wat hulle sien aftuimel het, opgetel het nie.

’n Brief van Swapo op 11 Julie 2017 lui glo dit het aan die lig gekom – met behulp van “kommunikasie van die Namibiese polisie in Otjiwarongo” – ’n stemeenheid is deur ’n lid van die publiek op 6 Julie 2017 op die pad tussen Otjiwarongo en Okahandja opgetel.

Sy sê die ECN het bevestig dié is van die toestelle wat Swapo vir hul Outapi-verkiesing van hul ouer garde geleen het nadat die reeksnommers nagegaan is.

Volgens haar het ’n ander lid van die publiek intussen ook ’n stemeenheid en ’n beheereenheid naby die Mix-nedersetting aan die buitewyke van Windhoek opgetel. Wanneer dié vonds gemaak is, word nie verklap nie.

Prof. Paul Isaak, die voormalige hoofkiesbeampte, het glo 156 stemeenhede, 53 beheereenhede, 4 opsomtoestelle (tabulators) en twee drukkers aan Swapo geleen.

Hiernaas is vyf personeellede ook aan die regerende party geleen om “tegniese steun” te bied vir die gebruik van die EVM’s en ses streekstemopleidingsbeamptes “om verder met die proses te help”.

Tjipueja sê die volbladadvertensie is genoodsaak deur feitelik onakkurate mediaberigte “oor dié aangeleentheid van hoë openbare belang”.

Sou die ECN nie die foute weerlê nie, “mag dit moontlik ’n impak hê op ons voorbereidings om ’n geloofwaardige verkiesing te hou”, sê sy.

Sy beweer voorts die stemtoestelle wat aan “belanghebbendes” geleen word, “is dié wat vir opleiding en kiesopvoedingsdoeleindes gebruik word en nie dié wat in die werklike nasionale verkiesings gebruik word nie”.

Buitendien was Swapo nie die enigste liggaam wat al EVM’s by die ECN “oor die jare” geleen het nie.

Selfs die Windhoek-munisipaliteit (CoW), die Afrikaner- tradisionele owerheid, Nudo, die Nasionale Jeugraad (NYC) en ’n kerk, Oruuano Church, is van die instellings wat al vir hul “interne verkiesings” toestelle geleen het.

Mnr. Sacky Shanghala, die minister van justisie, het destyds op skrif verantwoordelikheid vir die toestelle in die regerende party se besit aanvaar.

Hy het ’n week terug in ’n verklaring ontken daar is enige ongerymdhede en gesê Swapo het betaal vir die verdwene masjiene.

Pogings om gister kommentaar by Isaak te kry, was onsuksesvol.

Mnr. Tonateni Shidhudhu, die woordvoerder van die ministerie van finansies onder wie die ontvanger van inkomste val, het gister gesê hulle bestudeer tans die ECN se verklaring en sal binnekort reageer.

Die grondaktivis en dosent mnr. Job Amupanda van die Regstellende Herposisionering (AR) het verlede week aan mnr. Theo Mujoro, Isaak se opvolger, geskryf om te sê die verdwyning van EVM’s laat vrae rondom die geloofwaardigheid en integriteit van die verkiesings op 27 November ontstaan.

Die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) het ook verlede week hul stem hieroor dik gemaak.

Die IPPR-navorser mnr. Frederico Links het gesê hy was veral bekommerd oor die teenstrydige weergawes oor die verdwene EVM’s.

Aan die een kant het die ECN verlede week beweer die polisie is besig met ’n ondersoek na die voorval, terwyl die polisie op hul beurt ontken het hulle was besig met ’n ondersoek, het Links gesê. “’n Vinnige en duidelike reaksie is nodig om vals inligting hok te slaan voor dit buite beheer raak.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer