Ebola eis al 1 400, versprei na Uganda
Ebola eis al 1 400, versprei na Uganda

Ebola eis al 1 400, versprei na Uganda

Volgens die WGO is sowat 2 000 mense besmet sedert die huidige uitbreking van Ebola in Augustus 2018 in die DRK.
Die uitbreking van Ebola in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) wat onlangs na die buurland Uganda versprei het, is nié 'n internasionale krisis nie.

Dit is volgens 'n mediaverklaring op die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se webwerf. Volgens die WGO is sowat 2 000 mense besmet sedert die huidige uitbreking van Ebola in Augustus 2018 in die DRK.

Omtrent 1 400 van hulle is dood – dis sowat 70% van die geïnfekteerdes. Dis sover bekend die tweede grootste uitbreking van Ebola in die menslike geskiedenis.

Hernude kommer oor die verspreiding van die siekte het nou posgevat nadat dié gevreesde virus nou na die aangrensende Uganda versprei het. 'n Vyfjarige seun en sy ouma is verlede week daar dood, nadat hulle oor die DRK se grens na Uganda gegaan het. Hulle was reeds besmet toe hulle in Uganda aangekom het.

Die Ugandese owerheid reken ten minste ses mense in dié land is reeds besmet en dat sowat 50 mense daar in aanraking met die virus was.

Die Ugandese regering het vinnig ­gereageer op die nuwe gevaar en 4 700 gesondheidswerkers in 165 gesondheidsentrums teen Ebola laat inent.



DRK HOë RISIKO

Die WGO sê die DRK bly steeds 'n hoë risiko vir die verspreiding van Ebola, maar die risiko in Uganda is matig. Dis onwaarskynlik dat die siekte na streke wat verder verwyder is, sal versprei en daarom word dit nog nie as 'n internasionale noodsituasie beskou nie.

Verskeie faktore kortwiek egter die onderskeie regerings en gesondheidswerkers se pogings om die siekte in bedwang te bring.

Dit sluit in die heersende burger­oorlog in die DRK, waar gesondheidswerkers in die spervuur beland.

Wantroue jeens buitelandse mediese hulpwerkers is ook 'n struikelblok, terwyl sommige politici wat stories versprei dat die siekte nie werklik bestaan nie of deur buitelanders na Afrika gebring word, ook nie help vir positiewe bewusmaking nie.

Moderne tegnologie help enersyds met bewusmaking, maar dit skep ­andersyds ook 'n platform vir die ­verspreiding van dié soort vals inligting wat mense verwar, berig Reuters.

Mense wat tradisionele genesers besoek en gebrekkige infeksiebeheermaatreëls striem die voorkoming van die siekte verder. Volgens die WGO het goeie kommunikasie en bewusmakingsveldtogte tussen Uganda en die DRK wel al positiewe resultate opgelewer en het Ebola-gevalle die afgelope vyf weke afgeneem. Daar is egter steeds gebiede waar baie nuwe gevalle voorkom.

Gebrekkige fondse en menslike hulpbronne is nóg faktore wat daartoe kan lei dat dit nog tot twee jaar kan duur voordat die huidige uitbreking van Ebola gestuit word.

Swak grensbeheer tussen Uganda en die DRK, met handelaars wat daagliks ongehinderd tussen dié twee lande se grense beweeg, skep ook risiko's, berig BBC.

Die virus word deur liggaams­vloeistowwe soos bloed, speeksel en stoelgang oorgedra. Lyers bring onder meer op en het diarree, wat beteken diegene wat hulle versorg, is die ­kwesbaarste. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer