Eagles teen Ierland op 'n mespunt gebalanseer
Vandag se uitslag in Sjarjah sal ingrypende gevolge vir beide spanne hê.
Sportredaksie – Die Eagles benader hul laaste groep A-wedstryd vanmiddag teen Ierland in Sjarjah by die T20 Wêreldbeker soos 'n eindstryd.
Dié botsing is alles-of-niks vir Namibië én Ierland – twee lande met 'n uiters kompeterende krieketgeskiedenis wat mekaar beide al tevore op kritieke tye en op pynlike wyses uit kwalifiserende toernooie geboender het.
Die verloorder gaan huis toe; die wenner dring deur om in die Supertwaalffase van die Wêreldbeker minstens nog vyf wedstryde teen die werklike grotes van die sport te speel.
Indien Sri Lanka, verreweg die sterkste span in groep A, soos verwag vandag met die reeds uitgeskakelde Nederland afreken, sal groep A se tweede kwalifiseerder hom ná die noodwendige feesvieringe moet vetsmeer om volgende teen bulspanne soos Skotland (komende Woensdag), Afghanistan (Sondag 31 Oktober), Pakistan (Dinsdag 2 November), Nieu-Seeland (Vrydag 5 November) en Indië (Maandag 8 November) opgeweeg te word.
Pierre de Bruyn, hoofafrigter van die Eagles, het aan Republikein gesê: “Ons oorwinning teen Nederland (eergister) was fantasties. Dit het op die regte tyd gekom en ek is bitter bly vir die manne.
“Ons was gelukkig om eerste veldwerk te doen, want die statistiek wys dat die span wat daar tellings jaag gewoonlik die wedstryd wen.
“Ons boulplanne het uitstekend gewerk. JJ Smit was ongelooflik goed met die bal, veral as hy na die korter grens geboul het, en Bernard Scholtz was puik tydens die kragspel. Nederland moes eintlik minstens 175 tot 180 lopies gekry het.
“Op 53/3 was ons onder groot druk, maar die vennootskap tussen David Wiese en Gerhard Erasmus was wêreldklas. Die wyse waarop hulle die draaiers aangevat het, was ongelooflik goed en positief.
“David het opnuut bewys dat hy 'n wedstrydwenner met X-faktor is. Ons moet (ná die openingsnederlaag teen Sri Lanka) die laaste twee wedstryde wen en elke speler van Nederland is in diepte bespreek.
“Wat kan ons teen Ierland van die Eagles verwag? Dis dieselfde posisie as teen Nederland. Die wenner gaan verder en die verloorder gaan huis toe. So, ons sal absoluut alles gee wat ons het. Ons wil ons nasie weer trots maak, soos Woensdag.
“Sjarjah is 'n veld en 'n kolfblad wat moontlik teen Ierland in ons guns kan tel. Ons sal koelkop moet bly en saam staan.”
Kaptein Gerhard Erasmus sê hy sal vandag weer soos Woensdag eerste veldwerk wil doen.
“Ons wedstrydplan teen Nederland was om eerste te boul en gelukkig het ons die loot gewen. Die Sjarjah-kolfblad is 'n kolwersparadys en dis moeilik om 'n telling daar te verdedig.
“Ons is opnuut daarop ingestel om Ierland, wat 'n toetsspelende land is, aan te vat en 'n historiese tweede wedstryd by hierdie Wêreldbeker te wen.”
TERUG BY SY WORTELS
David Wiese, die held van die terugvegpoging teen Nederland met 66 nie uit nie van 42 balle, met vier viere en vyf sesse, het vroeër dié week aan die BBC gesê hy is geweldig geëerd om ná sy vorige loopbaan met Suid-Afrika 'n tweede internasionale kans met Namibië te kry, waar sy pa gebore is.
“Ek voel asof my pa nou nog méér trots op my is as toe ek vir die Proteas gespeel het. Hy sal dit nooit sê nie, maar ek voel dit net.”
Die 36-jarige veelsydige Wiese sê nog 'n speler-van-die-wedstrydvertoning deur enige Namibiese spanlid vandag teen Ierland wat kwalifikasie vir die Supertwaalf verseker, sal 'n ongelooflike verskil maak.
“Dit beteken ons kwalifiseer outomaties vir die 2023 Wêreldbeker en Namibië behou sy finansiering van die Internasionale Krieketraad.
“Boonop kan een of twee meer Namibiërs dalk kontrakte in internasionale T20-ligas beklink. Dit skep 'n sneeubal-effek op die plaaslike sport.
“Ek voel besonder bevoorreg en dankbaar vir hierdie kans om in die Namibiese span te kan terugploeg.”
• VANDAG regstreeks op SuperSport: Namibië teen Ierland (12:00); Sri Lanka teen Nederland (16:00).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie