• Tuisblad
  • Sport
  • Eagles steun veldtog teen borskanker voor T20-WB

Eagles steun veldtog teen borskanker voor T20-WB

Krieket
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Pupkewitz Motors het gewys waar sy hart lê toe me. Bianca Weakly, handelaarshoof van Pupkewitz GWM- Haval en Honda, Vrydag 'n nuwe GWM-dubbelkajuitbakkie aan Gerhard Erasmus oorhandig het.

Erasmus, kaptein van die nasionale krieketspan die Eagles, sal vir die volgende twee maande die voertuig tydens Krieket Namibië se #Pledge4Pink-veldtog teen borskanker aanwend.

Weakly het gesê: “Dis 'n groot dag vir ons. Pupkewitz GWM is geweldig trots en ingenome om saam met Gerhard en Krieket Namibië die #Pledge4Pink-veldtog aan te pak.

“Ons is 'n hele paar vroue in die maatskappy, dus lê #Pledge4Pink ons na aan die hart.”

Mnr. Johan Muller, hoofbeampte van Krieket Namibië, sê 'n besige paar maande lê vir die Eagles voor.

“Ons speel binnekort teen die Titans in Windhoek in 'n vriend­skaplike opwarmreeks; daarna vertrek ons Bloemfontein toe om die Knights daar te pak en tussendeur is die #Pledge4Pink-veldtog in volle swang.

“In Oktober en November is die span vir 25 dae in Oman en die Verenigde Arabiese Emirate om aan die T20-Wêreldbeker deel te neem. Die Eagles ding in die eerste ronde teen Ierland, Nederland en Sri Lanka mee, van wie net twee spanne tot die hoofkompetisie deurdring.

“Die pienk veldtog is daarop gemik om meer mense van die risiko's van borskanker bewus te maak en geld vir die ­Namibiese Kankervereniging se bedrywighede in te samel.

“Pupkewitz en Krieket Namibië bied op Vrydag 3 September ons groot Pienkgholfdag by die Windhoek Buiteklub se baan aan. 'n Vierbal-inskrywing beloop N$4 500. Dit sluit die baanfooie, joggie of gholfkarretjie asook middagete in.

“Baie dankie aan Pupkewitz dat julle bereid is om ons in moeilike tye te ondersteun. 'n Beter verteenwoordiger vir jul handelsmerk as Gerhard sou julle nie kon kry nie.”

Erasmus het gesê: “Dis beslis 'n heuglike dag vir my as speler en vir die span. Ons as spelersgroep glo aan die tradisies en Eagles-handelsmerk op en van die veld. Hopelik kan ons die GWM-handelsmerk ewe suksesvol ondersteun.”

Erasmus is agter die stuur van die kommersiële model van GWM se P-reeks 4x2 SX-weergawe wat met 'n agtspoed outomatiese ratkas spog. Die dubbelkajuitbakkie is duidelik uitkenbaar aan die kentekens van Krieket Namibië asook #Pledge4Pink.

Belangstellendes moet verkieslik voor 31 Augustus 'n e-pos na [email protected] stuur om vir die pienk gholfdag in te skryf.

Besoek gerus www.cricketnamibia.com/pledge4pink en vind uit hoe om by dié goeie saak betrokke te raak.

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer