Eagles slaggereed vir uitdaging in buurland
Eagles slaggereed vir uitdaging in buurland

Eagles slaggereed vir uitdaging in buurland

Krieket
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Die Capricorn Eagles, Namibië se nasionale senior vrouekrieketspan, vertrek môre na Gaborone, Botswana, waar hulle van 9 September aan die Afrika-kwalifiseerders vir die 2022 T20 Wêreldbeker in Suid-Afrika gaan deelneem.

Dié kompetisie word deur die Botswana Krieketvereniging by sy nasionale velde (BCAO 1 en 2) in Gaborone aangebied waar 11 lande in twee groepe op ’n rondomtaliegrondslag in elke groep sal meeding.

Namibië sal in Groep B teen Kameroen, Nigerië, Sierra Leone en Uganda kragte meet. Groep A bestaan uit Botswana, Eswatini (Swaziland), Mosambiek, Rwanda, Tanzanië en Zimbabwe.

Die eerste twee lande in elke groep sal mekaar in die semifinale in oorkruiswedstryde pak. Die wenner van Groep A sal in een semifinaal teen die naaswenner van Groep B speel, terwyl die wenner van Groep B teen die naaswenner van Groep A vir ’n plek in die finaal sal veg. Die eindstryd vind op 19 September om 14:15 by dieselfde venue plaas.

Net die wenner in die finaal kwalifiseer vir die Wêreldbeker.

Mnr. Johan Muller, hoofbeampte van Krieket Namibië, het die span Saterdagmiddag by die Windhoek-gholfklub en Buitekluboord afgesien.

Muller het gesê: “Dit is vir my lekker om vandag al die spanlede hier bymekaar te hê. ’n Paar jaar gelede was vrouekrieket met min wedstryde en sonder veel publisiteit gespeel, maar dit het drasties verander.

“Die afgelope ruk het julle meer wedstryde gehad om julself te slyp en dit is op nasionale televisie uitgesaai. Boonop word die Eagles deur ’n passievolle borg soos die Capricorn-groep geborg wat ’n gerekende krag agter vrouekrieket en Krieket Namibië is.

“Ons het ’n baie groter oefengroep en die spelers kompeteer vurig onder mekaar vir ’n plek in die nasionale span en dit is presies wat ons nodig het om die Capricorn Eagles sterker te maak. Voorspoed met julle veldtog in Gaborone, maak ons trots en kwalifiseer vir die 2022 T20 Wêreldbeker.”

Me. Marlize Horn van die Capricorn-groep het gesê: “Ons is opgewonde om julle weer in aksie te sien en ons land se naam hoog te hou soos julle ’n paar maande gelede in Rwanda gemaak het.

“Ons sien daarna uit om die wedstryde regstreeks te sien, want dit gaan opnuut direk uitgesaai word. Sterkte en laat die Namibiese vlag hoog wapper.”

Irene van Zyl, kaptein van die Eagles, het gesê: “Baie dankie aan Capricorn wat dit vir ons moontlik maak om aan die kompetisie in Gaborone deel te neem.

“Ons gaan nie net Botswana toe om ’n plek te vul nie. Die Eagles wil die toernooi wen om vir die 2022 T20 Wêreldbeker in Suid-Afrika te kwalifiseer.

“Daar is geweldig baie talentvolle spelers in die span en ons glo as ’n span dat ons die besonderse mylpaal in Gaborone kan bereik. Dit is die eerste keer in Namibiese vrouekrieket dat iets soos die gebeur. Ons gaan die vlag daar hoog en trots laat wapper.”

Die Capricorn Eagles is: Irene van Zyl (kaptein), Yasmeen Khan (onderkaptein), Kaylee van Wyk, Mekelaye Mwatile, Namusha Shiwomwenyo, Sylvia Shihepo, Wilka Mwatile, Juriene Diergaardt, Suné Wittmann, Victoria Hamunyela, Adri van der Merwe, Edelle van Zyl, Mezerly !Gorases en Kayleen Green.

Die wedstryde word almal oor 20 boulbeurte in twee groepe gespeel.

Dag 1: Donderdag 9 September - 9:15 (BCAO 1) Rwanda teen Mosambiek; 9:30 (BCAO 2) Uganda t Namibië; 14:15 (BCAO 1) Swaziland t Botswana; 14:30 (BCAO 2) Sierra Leone t Nigerië.

Dag 2: Vrydag 10 September - 9:15 (BCAO 1) Zimbabwe t Tanzanië; 9:30 (BCAO 2) Kameroen t Uganda; 14:15 (BCAO 1) Botswana t Mosambiek; 14:30 (BCAO 2) Namibië t Nigerië.

Dag 3: Saterdag 11 September - 9:15 (BCAO 1) Zimbabwe t Swaziland; 9:30 (BCAO 2) Sierra Leone t Kameroen; 14:15 (BCAO 1) Mosambiek t Tanzanië; 14:30 (BCAO 2) Nigerië t Uganda.

Dag 4: Sondag 12 September - 9:15 (BCAO 1) Swaziland t Rwanda; 9:30 (BCAO 2) Botswana t Zimbabwe.

Dag 5: Maandag 13 September - 9:15 (BCAO 1) Tanzanië t Rwanda; 9:30 (BCAO 2) Nigerië t Kameroen; 14:15 (BCAO 1) Zimbabwe t Mosambiek; 14:30 (BCAO 2) Namibië t Sierra Leone.

Dag 6: Dinsdag 14 September - 9:15 (BCAO 1) Swaziland t Tanzanië; 9:30 (BCAO 2) Kameroen t Namibië; 14:15 (BCAO 1) Botswana t Rwanda; 14:30 (BCAO 2) Uganda t Sierra Leone.

Dag 7: Donderdag 16 September - 9:15 (BCAO 1) Mosambiek t Swaziland; 9:30 (BCAO 2) Rwanda t Zimbabwe; 14:15 (BCAO 1) Tanzanië t Botswana.

Dag 8: Vrydag 17 September - 9:30 (BCAO 1) semifinaal 1 (B2 t A1); 14:15 (BCAO 1) semifinaal 2 (B1 vs A2).

Dag 9: Sondag 19 September - 14:15 (BCAO 1) eindstryd.

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer