Eagles oorweeg strategie teen Afghane

Krieket
“Ek dink as ons die semifinaal van die Wêreldbeker haal, sal dit 'n behoorlike opskudding in die krieketwêreld veroorsaak.

“Ons weet ons kan. Dis moontlik. Ons is hier – in die Supertwaalf – en ons geniet dit,” het JJ Smit by die mediakonferensie gesê ná afloop van Woensdagaand se dramatiese T20 Wêreldbeker-oorwinning teen Skotland, wat die Namibiese Eagles se eerste twee ligapunte verseker het.

Komende Sondag se stryd teen Afghanistan in Abu Dhabi beloof egter 'n perd van 'n heel ander kleur.

Afghanistan (bevolking 40 miljoen) is sewende op die wêreldranglys in T20-krieket (Namibië is 16de) en het reeds in elke afdeling van die spel gewys waartoe hy in staat is – soos toe hy die arme Skotte vir 'n vernederende 60 lopies uitgeboul het om met 130 lopies te wen.

“Vir ons volgende wedstryd moet ons net hulle draaiboulers en hul naatboulers goed speel. Ek reken nie ons moet te veel op hul draaiboulers fokus nie; uiteraard het hulle drie van die bestes in die wêreld, maar hul naatboulers word ook baie hoog gereken en is nogal vinnig,” het Smit gesê.

Die veelsydige Smit het teen Skotland met 'n onoorwonne 32 van 23 balle die wenlopies met sy tweede ses van die wedstryd behaal. Vroeër was hy ook lid van die seldsame ver­skynsel dat 'n span vier linkerarm snelboulers in 'n internasionale T20-wedstryd gebruik het, met Michael van Lingen, Jan Frylinck en die speler van die wedstryd Ruben Trumpelmann die ander.

Die swaai en afwisseling waarmee die naatboulers sover vorendag gekom het, maak die Namibiese boulaanval een om mee rekening te hou.

Kommentaar

Republikein 2025-12-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer