Eagles kolf aanvallend op SuperSportpark
Eagles kolf aanvallend op SuperSportpark

Eagles kolf aanvallend op SuperSportpark

Krieket
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Danksy Jan Frylinck se vyftigtal, Stephen Baard se 48 en verskeie kleiner bydraes kon Namibië sy eerste kolfbeurt teen Noordelikes in sy Sunfoil driedagwedstryd op SuperSportpark in Centurion gister op die eerste dag op 236 (almal uit) afsluit.

Hul kolftempo van meer as 3.4 per boulbeurt was heelwat meer as wat gewoonlik in driedagwedstryde aan die ander kant van die rivier die geval was.

Noordelikes se kaptein Thomas Kaber het die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen, waarna die broers Justin en Stephen Baard as openingskolwers vir die Eagles stelling ingeneem het. Hul 50-lopie vennoot­skap het vir 74 balle (53 minute) geduur waarin Stephen en Justin onderskeidelik 25 en 22 aangeteken het.

Net toe dit wou lyk of Justin sy voete begin vind, het Grant Thomson toegeslaan en hy is vir 24 (5x4) deur Victor Mahlangu uitgevang. Namibië se volgende drie kolwers is spotgoedkoop vir 'n skamele tien lopies laat stap. Alfred Mothoa wat Stephen Baard op 48 (5x4, 1x6) deur Thomson laat vang het, het ook vir Michau du Preez (9 lopies, 2x4, gevang Qaasim Adams) en die waardevolle Craig Williams (0, gevang Mahlangu) uitoorlê.

Jacques Fourie, die vierde slagoffer van die dag, het aan die bouler Thomas Kaber behoort toe Stefan Klopper hom vir een lopie uitvang.

Op 5/89 ná 28.4 boulbeurte was die Eagles ietwat in die moeilikheid, maar met Zane Green se 26 lopies (5x4, geboul Rowan Richards) en Jan Frylinck se uitstekende 51 van 33 aflewerings (8x4, 2x6, 37 minute) het die Eagles mooi aan die gang gebly.

Dit was Frylinck se derde vyftigtal vir die Eagles dié seisoen ná sy 92 en 70 teen KZN Binneland.

JJ Smit (25 nie uit nie) het halfpad deur sy kolfbeurt uitgetree toe hy teen die vinger raakgeboul is. Hy het egter later teruggekeer en het hom met twee viere en 'n ses laat geld.

Bernard Scholtz (1, 25 balle) is ook deur die kombinasie van Mahlangu en bouler Mothoa uitgeknikker.

Noordelikes se opmars is egter deur die vasberade stertkantkolwers soos Danie van Schoor (20 van 38 balle, 2x4), Smit en die laaste man Mika Mutumbe (21 van net 14 balle, 4x4) gefrustreer.

Vir Noordelikes het Mothoa met vier paaltjies vir 54 lopies geskitter, terwyl Richards en Kaber onderskeidelik 2/22 en 2/63 behaal. Hawken (1/52) en Thomson (1/31) lewer die ander bydraes.

Swak lig het spel vir die dag vroeg beëindig.

• Die Eagles sal Sondag ná die driedagbotsing die sterk geplaaste Noordelikes by dieselfde venue in die eendag-uitdaagreeks pak.

Kommentaar

Republikein 2025-07-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer