Eagles daag ieder en elk uit
Eagles daag ieder en elk uit

Eagles daag ieder en elk uit

Die nasionale span se uitdaging is aan enige ander sportspanne gerig.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Krieket Namibië het gister by die Future Media-hoofkantoor in die hoofstad sy #EaglesChallenge-veldtog geloods om toerisme in die land te ondersteun.

Mnr. Johan Muller, hoofbeampte van Krieket Namibië, sê die #EaglesChallenge-inisiatief is daarop gemik om mense internasionaal en plaaslik opnuut van Namibië en sy skoonheid bewus te maak.

Muller sê: “Toerisme is een van die bedrywe in Namibië wat die hardste deur internasionale Covid-19-inperkings getref is. Die nasionale mans- asook vrouespan daag almal uit om toerisme weer aan die gang te kry.

“Die #EaglesChallenge is eerstens ’n bewusmakingsveldtog en tweedens daarop ingestel om deure vir finansiële ondersteuning aan ’n spesifieke instansie van deelnemers oop te maak.

“Die Eagles daag ander krieketlande wêreldwyd, nasionale spanne asook plaaslike sportverenigings, klubs, besighede, korporatiewe maatskappye en skole uit om aan die vyfkilometeruitdaging deel te neem. Hoe, waar en wanneer ’n individu, aflosspan of span die uitdaging aandurf, is die deelmers se besluit.

“Die span kan tussen vyf en tien lede hê en die hele span kan saam die afstand voltooi, of die vyf kilometer kan met ’n aflos kafgedraf word. Een person kan 500 meter draf, die volgende deelnemer ’n kilometer, tot die afstand in geheel afgelê is.

“Die Eagles het hul uitdaging as ’n span by Na’an ku sê, ons toerismevennoot, voltooi en die video is op ons webtuiste te sien.

“Die deelnemers moet hul tye met ’n skermskoot (byvoorbeeld Strava) by Krieket Namibië se webkantoor (www.cricketnamibia.com/eagleschallenge) oplaai. ’n Video van die aksie is ook welkom.

“Mense kan by ons webtuiste ’n elektroniese banier aflaai. Om ’n ander span uit te daag, mag hulle die naam van die toerisme-maatskappy op die elektroniese banier gebruik om dit op verskeie sosiale platforms soos Facebook, Instagram en Twitter te plaas.

“Hopelik kan ons met die #EaglesChallenge mense opnuut van toerisme bewus maak en ’n spesifieke maatskappy finansieel ’n inspuiting te gee. Daar is geen inskrywingsgeld betrokke nie, maar ons vra dat mense enige kontantskenkings direk in die rekening van die maatskappy van sy keuse inbetaal.”

Om aan die uitdaging deel te neem, kan Krieket Namibië by www.cricketnamibia.com/eagleschallenge besoek word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer