E-gevegspan mik na Israel
E-gevegspan mik na Israel

E-gevegspan mik na Israel

Elektroniese sport
Die finale rondte van die Namibiese Elektroniese Sportvereniging (NESA) se nasionale toernooi in die vegspeletjie Counter-Strike: Global Offensive (CS:GO) is onlangs afgehandel, waar die land se nasionale CS:GO-span vir 2021 gekies is.
Die aangewese vyf spelers sal Namibië by die Internasionale e-Sportfederasie (IESF) se komende Globale Streekspele met die strewe om deur te dring na die e-Sport wêreldkampioenskap, wat gedurende November 2021 in Eilat, Israel aangebied word.
Internasionale wedstryde word ook gereël om die plaaslike spelers in topvorm te hou en hul vernuf te slyp vir die uitdaging wat voorlê.
Videostroom van die spannende eindrondte van die nasionaletoernooi is regstreeks op NESA se Facebook-blad gebeeldsend. Die toptwaalf spelers in Namibië is genooi om sake vir die vyf posisies uit te spook. Die spelerskombinasies is voortdurend geroteer om te sien hoe hulle by mekaar inpas en om hulle kans te gee om hul vaardighede ten toon te stel.
Die keurkomitee het vanjaar ’n moeilike taak gehad vanweë die ongekende vlak van toewyding en fokus wat die individuele spelers gewys het. Namate die toernooi gevorder het, is die beste van die beste gekies:
• Andries “Fluye” Wahl (kaptein)
• Ezee “TheEzZ” Viljoen
• Ilario “NoWher3” Izaks
• Pieter “P9T” Kok
• Talon “Shackles” Izaks
Andries Wahl is as die mees waardevolle speler in die toernooi aangewys.
Een lid van die keurkomitee, André Nel, sê: “Andries het puik presteer teen die ander topspelers in die land. Hy het gedurende die toernooi in verskeie ongelukkige en moeilike situasies beland, maar het nogtans daar uitgekom. Sy aanvoeling vir die spel, algemene vaardigheid, posisionering en korrelwerk was fenomenaal.”
Die geleentheid is moontlik gemaak deur die steun van NESA se borge Logitech G, Nanodog en Future CC, asook die toewyding en harde werk van verskeie vrywilligers.
NESA sien uit daarna om te sien hoe die span in internasionale wedstryde meeding en versoek enige moontlike bystand om meer geleenthede vir Namibiese e-sportspelers te skep.
Vir navrae oor borgskappe of skenkings, kontak gerus die vereniging by [email protected]. Meer inligting kan ook op NESA se Facebook-blad (Nesa.Namibia) of hul webblad www.esportsnamibia.org verkry word.

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer