Dyantyi kan legende word
Dyantyi kan legende word

Dyantyi kan legende word

Rugby
Tinus van Staden - Aphiwe Dyantyi. Onthou die naam, want as sy afrigter by die Leeus, Swys de Bruin, se voorspelling steek hou, gaan dié 23-jarige vleuel 'n Suid-Afrikaanse rugbylegende word.

Dyantyi is Saterdag ná sy span se Superrugby-stryd teen die Jaguares op Ellispark vir die tweede agtereenvolgende week as die speler van die wedstryd aangewys.

“Hy is spesiaal, ek moet sê hy het weer 'n goeie wedstryd gehad. Hy in nie bang om dinge te probeer nie en ek moet dit aanmoedig, want dit is wat jy wil hê,” het De Bruin agterna oor Dyantyi gesê.

Hy het twee drieë in dié sege van 47-27 gedruk en nog een geskep.

Jaco Peyper, die skeidsregter, het boonop 'n strafdrie aan die Leeus toegeken nadat 'n Jaguares-speler 'n bal afgeklap het wat vir Dyantyi teen die kantlyn naby die doellyn bedoel was.

Dyantyi is nog jonk, maar hy het 'n baie goeie kop op sy skouers.



GOEIE KOP OP SY SKOUERS

Dyantyi, wat verlede jaar vir die Universiteit van Johannesburg in die Varsitybeker-reeks gespeel het, het verlede week in die Leeus se sege oor die Haaie 'n spogdrie in sy buiging gedruk. Hy is toe ook as die speler van die wedstryd aangewys.

“Hy het baie goeie balbesit van sy voorspelers gekry, ons moet versigtig wees om nie net een speler uit te sonder nie.

“Maar as ons goed na hom kyk, hom nie te vinnig druk deur klomp goed vir hom te sê nie en hom toelaat om sy kleure te verdien, dan kan hy 'n legende word. Dit is my voorspelling – as ons sy toekoms goed beplan,” sê die breier.

Dyantyi is nog jonk, maar hy het 'n baie goeie kop op sy skouers.

“Hy het 'n graad, trouens, hy het 'n honneursgraad. Hy is 'n volwasse en slim ou. Ek is baie bly vir hom,” sê De Bruin.

Dyantyi kombineer goed met die res van sy agterlyn en hy het veral 'n paar keer goeie aansluiting by die Springbok-buitesenter, Lionel Mapoe, gevind.

“Die agterspelers het goed gekombineer. Ons moet net onthou Superrugby is van 'n hoë gehalte, so die teenstanders gaan jou soms in foute indwing.”

Die goeie balbesit wat die voorspelers vir die agterlyn verskaf het, is nog 'n veer in die nuwe voorspeler-afrigter, Philip Lemmer, se hoed. Die Leeus se skrums het weer goed gewerk.

“Philip is regtig besig om goed in te pas by die voorspelers,” sê De Bruin.

Die Leeus het juis 'n puik drie van eerstefase-besit gedruk toe Dyantyi ná 'n goeie lopie sy vleuelmaat, Sylvian Mahuza, weggestuur het.

“Ons het verlede week ook van eerstefase-besit gedruk, so krediet moet gaan aan Neil de Bruin (agterlyn-afrigter), want ons agterlyn se aanvallende spel lyk baie goed.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer