Duur kunsmis, diesel bekommer akkerbouers
Duur kunsmis, diesel bekommer akkerbouers

Duur kunsmis, diesel bekommer akkerbouers

Op die vooraand van die plantseisoen vir somergrane moet akkerbouers hul somme laat klop te midde van reusestygings in die pryse van diesel en kunsmis.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die rekordhoëpryse van kunsmis en diesel sit die boer én die verbruiker op die agtervoet, waarsku die Suider-Afrikaanse landboubedryf.

Graan SA sit in ’n onlangse verslag die styging in mielieboere se insetkoste uiteen en sê dit is veral die prys van kunsmis wat ’n groot invloed het.

Dit maak volgens die verslag sowat 30% tot 35% van ’n mielieprodusent se veranderlike produksiekoste uit.

Die pryse van grondstowwe soos stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) wat in die vervaardiging van kunsmis gebruik word, het die afgelope paar maande skerp gestyg.

Die Wêreldbank het in Oktober ‘n verslag voorspel die internasionale pryse van kunsmis-grondstowwe sal in 2021 gemiddeld 25% hoër wees as in 2020 en sal eers in 2022 weer na laer vlakke terugkeer.

Intussen het die prys van diesel verlede week in Namibië met 70 c per liter gestyg en in Suid-Afrika is dit vandeesmaand R1,48 per liter duurder.

Die prys van sade het ook gestyg. Volgens Graan SA se berekeninge het mieliesaadpryse vir van die gewildste kultivars sedert verlede jaar met gemiddeld 5,6% gestyg, terwyl die gemiddeld van al die mieliekultivars ongeveer 3,3% gestyg het.

Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die landbou-unie TLU SA, het in die buurland gemaan die regering moet besin oor die vasstelling van minimumlone aangesien boere dit nie bo-op die ander styging kan bekostig nie. Hy sê arbeidskoste in die landbousektor word onbekostigbaar as dit nie in pas met die winsgrens en insetkoste aangepas word nie.

Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, het gewaarsku stygende insetkoste en ander oorhoofse kostes veroorsaak ernstige uitdagings vir voedselproduksie in Suid-Afrika en bring voedselsekuriteit in die gedrang.

Die landbou-ekonoom dr. Kobus Laubscher sê boere is prysnemers en kan nie die styging in kostes van die ander belanghebbendes in die waardeketting verhaal nie.

Hy maan egter duurder brandstof beteken duurder vervoerkoste en daarom sal voedselpryse verder verder styg.

MIELIEDRIEHOEK

Mnr. Gernot Eggert, voorsitter van die Akkerbouprodusentevereniging (APV), sê Namibiese produsente bevind hulle in dieselfde kosteknyptang as die mielieboere anderkant die Oranjerivier. “Daar was dalk ’n paar produsente wat voor die prysstygings kunsmis aangekoop het, maar die meeste het nie,” sê hy.

“Kunsmis maak sowat 30% van die meeste produsente se kostemandjie uit en daardie komponent sal nou styg na 40%. Brandstof was die vorige seisoen 10% van ons insetkoste en dit gaan in die nuwe plantseisoen styg tot in die omgewing van 15% van ons koste,” sê Eggert.

Hy sê die meeste droëlandprodusente in die Mieliedriehoek is tans besig om hul lande voor te berei.

“Die grondboonprodusente het al die eerste gedeeltes van hul lande omgeploeg en geplant, maar die mielieboere wag nog vir die reën,” sê hy. [email protected]



KASSIE

Minimumloon vir plaaswerkers styg met 18%

Plaaswerkers se minimumloon op intreevlak sal vanaf 1 Januarie 2022 met 18% verhoog word tot N$1 053 as hulle 45 uur per week werk. Hul loon is laas in 2017 aangepas.

Dié aankondiging is deur die Landbouwerkgewersvereniging (LWV) gemaak en volg ná suksesvolle onderhandelinge tussen die Namibië Forum vir Landbou-arbeid (NALF) wat bestaan uit die drie landbou-unies en die Namibië Plaaswerkersvakbond, Nafwu.

Die ooreenkoms is gister in Windhoek onderteken.

Indien plaaswerkers nie gratis rantsoene ontvang nie, word die toelaag vir rantsoen tot N$600 verhoog wat beteken 'n jong plaaswerker sonder enige vorige ondervinding verdien vanaf Januarie N$1 653 per maand.

Die partye sê in 'n gesamentlike verklaring die meeste werkers op plase is beter daaraan toe as werkers in ander bedrywe in die land, aangesien hulle normaalweg gratis behuising, rantsoene, water, elektrisiteit en vuurmaakhout ontvang. Werkers in ander bedrywe bestee die grootste deel van hul lone hieraan.

FOTO
Kunsmis maak sowat 30% van die meeste produsente se kostemandjie uit. Foto Ronelle Rademeyer

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer