Duitsland voor VSA-hof gedaag

Ovaherero's, Namas dien groepeis in New York in

09 January 2017 | Plaaslik
Ronelle Rademeyer - Die twee inheemse Namibiese groepe wat aanvoer hulle voorsate was die slagoffers van die grootskaalse mense-uitwissing deur die destydse Duitse koloniale regering, sleep Duitsland nou in Amerika voor die hof.

Die verteenwoordigers van die ­Ovaherero-­­ en Nama-groepe het 'n hofaansoek om 'n groepeis by die federale hof in New York teen Duitsland ingedien waarin hulle vergoeding eis vir die beweerde volksmoord deur die Duitsers meer as 'n eeu gelede.

Adv. Vekuii Rukoro, opperhoof van die Ovaherero, hoofman David Frederick, voorsitter van die Vereniging vir Nama Tradisionale Owerhede, en die Vereniging van die Ovaherero-volksmoord in die VSA het dié hof Donderdag ook versoek dat hulle as verteenwoordigers by onderhandelinge tussen Duitsland en Namibië oor dié aangeleentheid ingesluit word.

Die twee lande is tans in onderhandelinge gewikkel oor die 1904-'08-­menseslagting. Duitsland het tot nou geweier om toe te gee dat daar wel 'n volksmoord was en wil ook nie vergoeding daarvoor betaal nie.

Volgens Rukoro en Frederick tree hulle namens al hul volksgenote op wat destyds onder die Duitse koloniale owerheid gely het. Dit sluit die Ovaherero's en Namas in Botswana, Suid-Afrika en die VSA in.

Dié groepe word in die groepeis deur Kenneth McCallion van die prokureursfirma McCallion & Associates in New York verteenwoordig. Prof. Richard Weisberg is die advokaat.

McCallion het in Mei verlede jaar 'n lesing getiteld “Africa to Auschwitz” by die Holocaust Memorial and Tolerance-­sentrum in Amerika oor dié menseslagting gelewer.

Van die groot multimiljoen­dollarsake op sy kerfstof sluit in die Exxon Valdez-saak oor oliebesoeding in Alaska, die saak oor die Shoreham-kernkragaanleg, die Golfoorlog-saak en die saak oor die Bhoral-gasramp.

Hy het ook 'n suksesvolle groepeis namens Joodse oorlewendes van die Joodse menseslagting teen verskeie Franse banke gevoer.

Luidens die hofstukke wat verlede week ingedien is, is ongeveer 'n kwart van die Ovaherero's en Namas se grond – glo honderdduisende hektaar – van 1885 tot 1903 sonder vergoeding en met die Duitse owerheid se goedkeuring deur Duitse setlaars afgevat.

Die eisers beweer ook die Duitse owerheid het hom nie gesteur aan die verkragting van die vroue en kinders van die Ovaherero's en Namas nie en dat die plaaslike inwoners sonder vergoeding vir dwangarbeid gebruik is.

Verder lui die stukke die Ovaherero het in 1904 in opstand gekom om te verhoed dat hulle in strafkampe geplaas en die res van hulle grond afgeneem word.

Dit het tot die bevel van genl. Lothar von Trotha gelei wat die uitwissing van 100 000 Ovaherero's en Nama's tot gevolg gehad het, word aangevoer.

“Die eisers bring hierdie groepeis namens die Ovaherero's en Namas wêreldwyd vir reparasies en vergoeding vir die volksmoord en die onberekenbare skade aan mense en eiendom deur Duitsland, asook vir die voortgesette skending van hulle regte onder die VN-deklarasie vir die regte van inheemse mense,” lui die hofstukke.

Hulle voer verder aan die federale hof het wel die jurisdiksie om die aansoek aan te hoor op grond daarvan dat die Amerikaanse kongres buitelanders gemagtig het om hulle tot dié hof te wend vir die skending van die wet op nasies ten einde diplomatieke probleme te voorkom.

Laastens versoek hulle ook dat 'n jurie byeengeroep word om die saak aan te hoor.

Soortgelyk

 

Shaningua 'het uit vrees geskiet'

11 ure gelede | Howe

Jacqueline Louw – Mnr. Rodney Shaningua (47) wat van die moord op ’n Finse burger twee jaar gelede beskuldig is, het gister aan ’n hoërhofregter...

Premier gee oorsig oor staatsdiens

11 ure gelede | Regering

Estelle de Bruyn - Met die uitsondering van die uniformmagte en politieke ampsdraers, is daar 67 835 staatsamptenare in Namibië van wie 534 buitelanders is.Dit...

Weer vir 28 April 2017

11 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm met enkele buie oor die Zambezistreek. Dit sal winderig oor die binneland wees, behalwe oor die verre...

Reg op repliek: Safari Hotels

11 ure gelede | Plaaslik

Op 10 Maart 2017 het Republi­kein 'n onderhoud geplaas wat gevoer is met mnr. Johnnie Hamman, voormalige besturende direkteur van Safari Hotels (Edms. Bpk.), onder...

Sentrale Aankoperaad in hoërhof ingehuldig

11 ure gelede | Howe

Die nuwe Sentrale Aankoperaad is gister amptelik deur regterpresident Petrus Damaseb in die hoërhof ingehuldig. Die voorsitter van die nuwe raad, mnr. Patrick Swartz, het...

Man sterf 'n maand ná sy troudag

11 ure gelede | Ongelukke

Tanja Bause - Presies 'n maand nadat mnr. Kaonge Kaura (26) in die huwelik getree het, is hy in die Lady Pohamba-hospitaal oorlede nadat hy...

Kavango: Beplande pynappelprojek tot niet

11 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh - Ná 13 jaar se werk is Kavango Fruit Farms se beplande pynappelprojek en -fabriek in die Kavangostreek van die baan.Dit ten spyte...

Gondwana se Zambezi Mubala Lodge binnekort oop

11 ure gelede | Toerisme

'n Nuwe Gondwana Collection-lodge in die Zambezistreek maak sy deure in November oop.Die Zambezi Mubala Lodge is 'n paradys vir natuur- en visvangentoesiaste en 'n...

NMH se Business7 praat met mynbou

11 ure gelede | Gebeure

NMH se Business& praat met mynbou