Duisende vierpote vind veilige hawe by DBV

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Namibië het verlede jaar ’n hawe aan altesaam 3 685 diere gebied, van honde en katte tot ystervarke en vlermuise.

Gemiddeld het 10 diere per dag ’n tuiste by the DBV gevind.

Bykans 40%, of 1 445, was diere wat die DBV se inspekteurs op straat ontdek het of op beslag gelê het, sê die DBV in hul jaaroorsig.

November moes vir ’n rekordgetal van 398 diere plek gemaak word. Hulle hoop van harte dit was eenmalig en dat dié neiging nie sal voortduur nie, sê die DBV.

In hul sorg is 554 diere gesteriliseer en is 3 009 inentings toegedien.

Goeie nuus is dat 22% méér diere verlede jaar as in 2018 aangeneem is, sê die vereniging.

Hoewel honde en katte die DBV se vernaamste inwoners is, het 142 ander spesies ook verlede hier ’n heenkome gevind. Dit sluit in donkies, perde, beeste, valke, uile, arende, dassies, meerkatte, skilpaaie, ystervarke en vlermuise.

Die DBV werk met ’n pleegsorgnetwerk vir die groot diere. Wilde diere word in samewerking met redding- en rehabilitasiesentrums, asook die ministerie van die omgewing en toerisme versorg.

Inisiatiewe

Die Dixie’s Fund is gestig ná ’n babahondjie seergekry het en geopereer moes word. Dié fonds is uitsluitlik vir DBV-diere se buitengewone mediese en veeartskostes.

Die vereniging se program vir vrywilligers het uitgebrei. Meer as 1 170 kinders is binne ses maande onder die vaandel van die humanitêre onderrigprogram deur skoolbesoeke en kuiertjies by die DBV bereik.

Ander inisiatiewe sluit in Quiz Night, Animals by Night, die zumbathon, kalenderkompetisie, ope dae en die Clear the Shelter-aannemingsveldtog.

Suksesverhale

Rusho is een van die DBV se vele suksesverhale in 2019.

Dié hond was uiters verwaarloos en was ’n “wandelende geraamte” toe hy by die DBV beland het. Hy het bosluiskoors en diarree gehad.

Die DBV se veearts het hom behandel en Rusho het stadig gewig opgetel. Deesdae is hy blakend gesond en het hy ’n nuwe tuiste by sy aanneemouers.

Troeteldiere soos Rusho herstel nie net liggaamlik nie, maar kry met die hulp van die DBV ook hul vertroue in mense terug.

Elkeen wat ’n dier aanneem, vrywillig by die DBV betrokke is, skenkings maak en/of ’n lid van die vereniging is, blaas lewe in dié organisasie in, sê die DBV.

“Hulle is die polsslag van die DBV. Hulle red lewens deur hul optrede en is almal helde in die oë van die diere,” sê die vereniging.

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer