Duisende troeteldiere verniet gesteriliseer
Duisende troeteldiere verniet gesteriliseer

Duisende troeteldiere verniet gesteriliseer

Projek nou bykans landwyd
Tanja Bause
Tanja Bause – Me. Lindie Prinsloo het in 2013 met die Have-a-Heart-projek in Outjo begin wat troeteldiere in lae inkomste areas steriliseer en kastreer.
“Ek het die diere in Etoshapoort woonbuurt sien rondloop en gedink ek moet iets doen om hulle te help. Ek het toe besluit om geld in te samel om met ’n sterilisasieveldtog te begin,” het Prinsloo gesê.
Dit was ook nie lank nie, en is daar in 2013 altesame 442 diere in vyf dorpe naamlik Outjo, Otjiwarongo, Kalkfeld, Windhoek en Rehoboth geopereer, ondersoek en versorg. In 2014 is daar na 483 troeteldiere in Outjo, Otjiwarongo, Lüderitz, Windhoek en Gobabis omgesien. Verlede jaar is 943 diere geopereer en het die inisiatief na agt dorpe uitgebrei met Outjo, Otjiwarongo, Lüderitz, Aus, Windhoek, Swakopmund, Gobabis en Rundu wat deelgeneem het.
In die drie jaar wat die Have-a-Heart-projek aan die gang is, is altesame 1 868 troeteldiere uit verskeie informele nedersettings gesteriliseer en gekastreer. Die organisasie hoop om die hoeveelheid rondloperdiere aansienlik te verminder en uiteindelik te verseker dat daar geen rondloperdiere meer voorkom nie.
“Mense is geneig om te dink dat inwoners van informele nedersettings nie vir hulle diere omgee nie, maar dit is nie só nie. Hulle het net nie die geld nie om die diere by ’n veearts te laat opereer nie. Met elke sterilisasieveldtog merk ons op hoe mense sit en wag terwyl hul troeteldiere geopereer word,” het Prinsloo gesê.
Volgens haar is die gratis dienste wat Namibiese veeartse gedurende die sterilisasieveldtogte lewer van groot waarde. “Hulle help graag in en gee hulle tyd kosteloos. Sonder hulle sou ons nie sulke groot sukses geniet nie.
“Deur ons veldtogte het ons verhoed dat sowat 24 000 honde en katjies gebore word. Daar is duisende troeteldiertjies wat wreed doodgaan bloot omdat hul eienaars nie die geld het om hul diere te steriliseer nie,” sê Prinsloo.
Volgens haar het slegs 28 % van alle diere in Namibië toegang tot ’n veearts. “Ons is hier om die ander 72 % te help.”
Elke dorp waar die Have-a-Heart-projek bedrywig is, moet hul eie geld vir die veldtogte insamel en dié geld word dan vir diere in die dorp gebruik. Diegene wat betrokke wil raak en skenkings wil maak, dan die volgende kontakpersone in hul onderskeie dorpe direk kontak:
• Me. Juandra Goossen (Rundu) by 081 333 3446;
• Me. Lindie Prinsloo (Outjo) by 081 287 8502;
• Me. Anneliese Langenhoven (Gobabis) by 081 628 9274;
• Me. Eileen Grosse-Weischede (Windhoek) by 081 245 1257;
• Me. Geesche Neuburg (Swakpmund, Aus en Lüderitz) by 081 666 6599;
• Me. Shenne Junius (Otjiwarongo) by 081 375 9780;
• Me. Sonia Sabbadini (Walvisbaai) by 081 035 2152; en
• Me. Jean-Mari Uys (Karibib) by 081 035 2152.
Om die stigting se kontantkas aan te vul sodat daar na nog ander dorpe uitgereik kan word, verkoop Have-a-Heart ondermeer T-hemde, pette en oortrektruie met verskillende ontwerpe op.
Vir meer besonderhede hieroor of om bestellings te plaas, kan Prinsloo by 067 313 732 gekontak word, of besoek www.have-a-heartspayandneuterproject.com of www. Facebook.com/HaveAHeartOutjo vir meer inligting.

Kommentaar

Republikein 2025-11-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer