Duisende besoekers smul aan Lu00fcderitz se kreef
Duisende besoekers smul aan Lu00fcderitz se kreef

Duisende besoekers smul aan Lüderitz se kreef

Ses duisend besoekers, 11 000 krewe verkoop
Gerine Hoff
Tammy Kleinhans – Vanjaar het besoekers en feesgangers van heinde en verre gekom om die agtste Kreeffees op Lüderitz by te woon.
Die immergewilde fees het oor die Paasnaweek plaasgevind, met vanjaar se tema “Ons is lief vir die see”, en talle hoogtepunte het die langnaweek se program volgemaak.
Die Kreeffees is ’n inisiatief van die Lüderitz-dorpsraad in vennootskap met plaaslike sakeondernemings met die doel om die kusdorp as ’n toeristebestemming te bevorder ten einde beleggings te lok. Dit is terselfdertyd ’n uitstekende geleentheid vir besoekers om aan die heerlikste seekos te kan smul.
Die fees is vanjaar oor die hele dorp gehou, met sekere aktiwiteite wat elders as op die Waterfront se Harbour Square plaasgevind het, onder meer by die sportkompleks en Aeroplane-strand. Ander geleenthede wat deel was van die feesprogram, was ’n seminaar vir sakevroue op 2 April en die Mej. Kreeffees-kompetisie wat op 27 Maart gehou is.
Lüderitz se burgermeester me. Susan Ndjaleka, was in haar noppies met die teenwoordigheid van raadslede van Walvisbaai, wat vir haar ’n aanduiding is dat die kusdorpe nie teen mekaar kompeteer nie, maar eerder saamspan in die bevordering van visprodukte in Namibië.
Sy het tydens die opening gesê haar raad in samewerking met regeringsinstellings en semi-staatsinstellings, asook private vennote het kragte saamgesnoer om die dorp se infrastruktuur te verbeter.
Volgens haar is beraadslaging met die Lüderitz Waterfront Ontwikkelingsmaatskappy belowend, met die tweede fase van die ontwikkeling wat goed op dreef is. Sy het ook gesê die voltooiing van die spoorwegprojek is in sig.
Ndjaleka het die hoop uitgespreek dat die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en kleinsake-ontwikkeling, die beplande diepwaterhawe sal aanpak.
“Dit sal die bestaande hawe goed aanvul en bydra tot die verbetering van die vervoersektor,” het sy gesê. “Boonop sal dit ongekende potensiaal uitlok en help om die hoë werkloosheidsyfer op die dorp te verminder.”
Sy het egter gesê dat verblyf op die dorp ’n probleem is, veral tydens die fees.
Sy het ’n beroep op inwoners gedoen om in eiendomsontwikkeling te belê wat nie net tot voordeel van die raad sal wees nie, maar vir die eienaars ook.
Die uitvoerende beampte van Lüderitz, me. Aunie Gideon, het gesê daar was vanjaar 70 klein- en mediumsakeondernemings en 30 korporatiewe uitstallers.
Gideon het gesê meer as 6 000 mense het die fees bygewoon. Volgens haar was die fees baie meer georganiseerd en opwindend as verlede jaar, en met beter samewerking van die private sektor. Volgens haar is ongeveer 11 000 krewe verkoop.

Kommentaar

Republikein 2026-07-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer