Dubbele dosis van skoner geslag het ambisie
Krieket
Tielman van Lill
Eloise du Plooy en Susca Loftie-Eaton het Sondag in Windhoek geskiedenis gemaak toe hulle die eerste vroue geword het om as die twee skeidsregters in 'n ligawedstryd vir Krieket Namibië te staan.
Du Plooy en Loftie-Eaton was by die Affies-veld in beheer van die tweedeligabotsing wat Otjiwarongo met twee paaltjies teen Groenmambas 1 gewen het.
Beide vroue het hul vuurdoop met vlieënde vaandels geslaag.
Loftie-Eaton, wat by Samsung FNB Wanderers se laaste jaareindfunksie as tellinghouer van die seisoen bekroon is en dus 'n deeglike begrip van die werking van krieketwedstryde het, vertel: “Hoewel ek al vier keer tevore saam met manlike skeidsregters in 'n klubwedstryd opgetree het, was dit totaal en al 'n nuwe ervaring vir my. Dit was baie opwindend, maar soos met enige nuwe avontuur was ek maar erg op my senuwees!
“Ek wil graag nog lank as skeidsregter optree. Ek is nog jonk en het baie jare voor my om my merk te maak. Ek gaan probeer om elke naweek te staan en so veel as moontlik te leer. My droom is om eendag in internasionale wedstryde vir mans én vroue op te tree en dalk selfs ICC-status te ontvang.”
Vir Du Plooy, met vier vorige wedstryde saam met 'n manlike skeidsregter agter die rug, was Sondag se uitstappie inderdaad 'n nuwigheid.
“Dit was 'n wonderlike geleentheid om saam met Susca te ervaar en ek sal dit graag in die toekoms weer doen. In geheel was dit 'n baie goeie wedstryd tussen die twee spanne.
“Iewers in die toekoms sal ek graag verder wil vorder met my skeidsregterskap, sodat ek eendag in internasionale wedstryde kan optree,” het sy aan Republikein gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie