Dít onthou Grondwetskrywers van 9 Februarie 1990

Drie dekades van demokrasie

14 February 2020 | Geskiedenis
Augetto Graig en Denver Kisting –

Omdat die erkenning van die inherente waardigheid en die gelyke, onvervreembare regte van álle lede van die mensfamilie onontbeerlik is vir vryheid, geregtigheid en vrede, aanvaar ons – die mense van Namibië – hierdie Grondwet as die fundamentele wet van ons soewereine en onafhanklike republiek.

Só lui ’n gedeelte van die voorwoord van die Grondwet, wat die afgelope week 30 jaar oud geword het.

Republikein het gaan kers opsteek by van die skrywers van dié baanbrekersdokument en ’n Grondwetkenner om te hoor óf en tot watter mate dit gestand gedoen het aan sy beloftes om die menseregte van alle Namibiërs te eerbiedig.

Pres. Hage Geingob, die huidige staatshoof en die voorsitter van die destydse grondwetskrywende vergadering, het die afgelope week gesê hy wy hom opnuut daaraan om pogings te verskerp “wat sal aanhou om die doelstellings van die Grondwet te bevorder”.

Volgens hom is dienslewering en sosioëkonomiese geregtigheid sleuteleise van dié “lewende dokument” wat op 9 Februarie 1990 tot stand gekom het.

Die staatshoof het in ’n boodskap aan Namibiërs gesê die Grondwet is geskoei op respek vir álmal se basiese menseregte, regsreëls en skeiding van magte tussen die uitvoerende gesag, die wetmakende liggame en die regbank. “Die Grondwet het as ’n lewende en leidende dokument Namibië sonder twyfel goed gedien,” het hy by monde van sy woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, gesê.

Syns insiens, sê Geingob, bied die Grondwet antwoorde waarmee gegriefde partye – deur die land se howe – verskille kan besleg sou daar tekortkominge in die bestuurstelsels en -prosesse ontstaan.

Prof. Nico Horn, die afgetrede akademikus en Grondwetkenner, roep die land se eerste demokratiese verkiesings by navraag in herinnering: “Ek was daar toe die land gestem het en ’n entoesiastiese ondersteuner van die Grondwet.”

Hy kry spoed: “Die feit dat ou vyande en politici met soveel uiteenlopende ideologieë om een tafel gesit (en) eenparig ’n grondwet uitgekap het waarmee almal saamgestem het, was ’n wonderwerk opsigself.”

Horn sê net wyle mnr. Kosie Pretorius van die Monitor Aksiegroep (MAG) “het buite stemming gebly, omdat die woorde ‘sekulêre staat’ sy Christelike gewete gepla het”.

Hoe die proses ontvou het, het hom veral beïndruk, sê hy.

“Die uiteindelike eenheid van so ’n uiteenlopende groep politici en die wyse waarop dr. Geingob keer op keer die vergadering gelei het om die verskillende afdelings te aanvaar – soms ná ernstige meningsverskille – was opsigself ’n wonderwerk.

“Daar is heelwat belangrike artikels in die Grondwet (en) vir my was daar ’n paar aangrypende besluite: Die aanvaarding van Namibië as ’n eenheidstaat en die skepping van ’n regstaat met ’n onafhanklike vervolgingsgesag,” skryf Horn uit Kaapstad.

Apartheid begrawe

Horn het dié week ook die simboliese teraardebestelling van die apartheidsregime onthou. “Ek het na die Afrikaanse Diens (die hedendaagse Hartklop FM) geluister terwyl ek en my gesin geëet het toe ’n omroeper die voorwoord (van die Grondwet) gelees het. Ek het soos ’n baba gehuil en die Here gedank dat ek dié dag kon beleef.”

Horn gee toe die dokument is nie perfek nie.

“Geen grondwet is volmaak nie. Ek sou graag wou sien dat artikel 101, wat oor ekonomiese regte handel, ook afdwingbaar moes wees. M.a.w. dat die reg tot ’n dak oor elke Namibiër se kop ook ’n afdwingbare reg moes wees. Die grondwetgewende vergadering het egter besef dat die jong staat dit nie kan bekostig nie.

“’n Bekende politikus het per geleentheid vir my gesê gratis behuising sal kom sodra ons genoeg tyd gehad het om al die bevoordeling van die verlede aan te spreek. Met byna ’n miljoen Namibiërs wat in onveilige sink- en houthuise woon, sal dit haas onmoontlik wees om nou te probeer opvang. Maar die hoop beskaam nie.”

Dirk Mudge

Wat is belangrikheid van die viering van Grondwetdag?

Ja, kyk dit maak nie saak of dit sport en/of politiek is nie, en wat dit ook al is nie. Jy kan nie sonder reëls nie, of as ’t ware (’n) grondwet nie. Dan het jy chaos. Dink aan ’n sport soos rugby byvoorbeeld. Dit is belangrik dat jy moet weet wat die reëls is. Wat mag jy doen en wat mag jy nie doen nie. Dit is belangrik jy weet dat jy nie onkant mag speel nie. Elke spel; elke sport het sy reëls en jy moet volgens daai reëls speel. As jy dit nie doen nie, het jy probleme. Daarom is ons baie gelukkig ons het ’n grondwet waaroor ons kan saamstem. Al die partye het saamgestem oor die Grondwet, en ons is vandag baie gelukkig ons kan ons op daardie Grondwet beroep, wat ons ook doen.

Jy weet dit is vir my wonderlik dat ons daaroor kon saamstem. Ons het nie probleme gehad met die skryf van die Grondwet nie. Ons het almal saamgestem wat dit moet bepaal en wat dit moet voor voorsiening maak, en die regering sowel as die opposisiepartye het daaroor honderd persent saamgestem. Ek dink nie daar is ’n land in die wêreld wat ’n beter grondwet het nie. En ons het dit en ons moet daarby bly. Ons moet baie trots daarop wees, en ons moet nie daarvan afwyk nie. Dit is net dit. Baie eenvoudig.

Watter oomblik onthou u, of staan uit in u geheue, van die tyd toe julle die Grondwet geskryf het?

Dit was vir my baie belangrik ons kon saamstem sonder om met mekaar te baklei. Ons het saamgestem en ons het oor die belangrikheid van die Grondwet veral saamgestem. Ons het saamgestem daar moet ’n grondwet wees. Ons het ook saamgestem wat die Grondwet hoofsaaklik moet bepaal. Ek dink nie ons het baklei nie. Dit was vir ons so lekker. Jy weet daar is baie goed wat ek spesifiek onthou – nie net een ding nie, maar een van die goed wat ek spesifiek onthou is ons kon mekaar se hande vat en ons kom (as) vriende uitmekaar gaan. Ons is as vriende en nie vyande uitmekaar.

Tot hoe ’n mate het ons geslaag om die Grondwet se basiese ondernemings uit te voer?

Baie ver. Ons het baie gevorder. Hoekom sê ek so? Omdat ons dít wat ons wou bereik, uitgevoer het. Ons het vrede. Ons het rassisme uitgeroei; ons het ’n baie verantwoordelike regering, wat hulle hou by die Grondwet. Nee, ek dink in ’n baie groot mate het ons geslaag om die bepalings van die Grondwet uit te voer.



Prof. Peter Katjavivi

Wat is die belangrikheid van die viering van Grondwetdag?

Sondag 9 Februarie 2020 merk die dertigste herdenking van die aanvaarding van die Grondwet van die Republiek van Namibië. Ons herdenk dié jaar se Grondwetdag onder die tema: “Die Namibiese Grondwet – Dertig jaar aan: ’n Terugblik”.

Dertig jaar is ’n lang reis in die lewe vir enige nasie. Ons Grondwet word gerespekteer en word tuis en in die buiteland waardeer as een van die mees vooruitstrewende grondwette in die wêreld.

In hierdie verband is die herdenking van Grondwetdag belangrik, omdat dit die gemeenskap ’n geleentheid bied om selfondersoekend te waardeer hoe die land teenoor die bepalings van die Grondwet vaar. Ons kyk binne na ons verlede, die hede en die toekoms.

Watter oomblik onthou u, of staan uit in u geheue, van die tyd toe julle die Grondwet geskryf het?

Die skryf van die 1990- Namibiese Grondwet was ’n besondere uitdagende taak omdat die verskillende partye om een tafel saamgekom het net ná hulle uit ’n oorlogsituasie gekom het. Daarom was vertroue baie laag. Nogtans, danksy die vaardige hantering van die taak deur die voorsitter van die komitee vir die ontwerp van die Grondwet, pres. Hage G. Geingob, en in die gees van nasionale versoening, het ’n konsensus ontstaan en alle besluite is op daardie grondslag geneem. Dit het die weg gebaan vir ’n suksesvolle uitkoms in die vorm van ’n nasionale grondwet wat wyd oor die land omhels is. Die oomblik gedurende hierdie oefening, waarvan ek ’n duidelike herinnering het, was die dag en tyd toe eerbare Dirk Mudge voorgestel het die Swapo-konsep kan dien as die werksdokument wat die span kon verfyn en in die nasionale grondwet kon omskep.

Tot hoe ’n mate het ons geslaag om die Grondwet se basiese ondernemings uit te voer?

Namibië is ’n bekende grondwetlike demokrasie en dusver het die land goed gevaar om by die bepalings van die Grondwet te hou. Geen wet kan die toets van enige ander hof in die land deurstaan nie as dit ongrondwetlik geag word gemeet teen die heersende wet van die nasie nie. Die Namibiese Grondwet is ’n lewende dinamiese dokument, doelbewus geskep om die behoeftes en aspirasies van die mense van Namibië na te kom. Ons Grondwet bly die deurslaggewende gids vir die land se reis van vreedsame samesyn en nasiebou.

Ngarikutuke Tjiriange

Wat is belangrikheid van die viering van Grondwetdag?

Eerstens, moet ons weet en verstaan die Grondwet is nie net ’n dokument nie. Dit is in werklikheid ’n gids waarop elke wet in die land geskoei is en ’n ieder en ’n elk moet daardeur gelei word. Dit is die lokomotief van onafhanklikheid en sonder ’n lokomotief kan die waens nie beweeg nie. Die regte en pligte van almal word daardeur bewaar. Ons mense moet vry voel in hul eie land, nie mee ingemeng word nie, weens die bewaring van die basiese wet van ons land. Niks kan sonder die fondament van die Grondwet gedoen word nie.

Watter oomblik onthou u, of staan uit in u geheue, van die tyd toe julle die Grondwet geskryf het?

Dit was lank gelede. Toe ons in Namibië aankom, was die land nie vry nie. Daar was soms misverstande tussen die mense. Ons het nie genoeg vertroue in mekaar gehad nie en moes eers kalmeer en ’n manier ontdek om saam te werk. Al die partye in die grondwetlike vergadering is gevra om ’n werkende dokument voor te lê wat ons as basis vir die nuwe Grondwet kon gebruik. Ek was toe die sekretaris vir regskwessies vir Swapo en ek het daar aangekom met die Swapo-voorstel vir die Grondwet in my aktetas. Ons het mekaar nie geken nie. Ek het ons dokument ter tafel gelê as een van die dokumente vir oorweging om as werksdokument te gebruik. Ons het gegaan en na die dokument gekyk. Ek was die volgende dag verbaas toe Dirk Mudge die een was wat sê kom ons gebruik die Swapo-dokument. Van al die mense wat ek daar nie geken het nie! Dit was die basis en van daar af het die vertroue gekom dat ons kon saamwerk. Ons kon so vorendag kom met een van die beste grondwette tussen baie nasies.

Tot hoe ’n mate het ons geslaag om die Grondwet se basiese ondernemings uit te voer?

Daar was nog geen skending van ons Grondwet in hierdie land nie. Dit was die werk van ons almal, al het die werksdokument van ons, van my gekom. Op die ou einde is dit ’n gids geskep deur almal van ons. Almal van ons is gelukkig daarmee. Daar was wel klein veranderinge en stukkies bygelas maar enige verandering moet eers deur die parlement goedgekeur word. Ons word steeds gelei daardeur. Baie mense sê ons Grondwet is baie goed. Dit het ons van verskillende oorde, verskillende ideologieë, verenig. Ons is almal in dieselfde boot en ons moet saamlewe onder die beskerming van hierdie dokument.

- [email protected] en [email protected]

Soortgelyk

 

Von Bachdam bereik 89%-merk

2 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Die Von Bachdam was vanmiddag om 12:00 presies 89% vol en het steeds 6,4 m³ water per sekonde ontvang. Maandag was dit...

Okahandjarivier saai wéér amok

4 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Die Okahandjarivier het gisternag wéér mnr. James Roux se kleinhoewe buite Okahandja oorstroom en boonop vroegoggend een persoon meegesleur. Die polisie, asook...

Steeds geen kontrak vir diens aan Psemas

16 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Die staat se mediese fonds (Psemas) se nuwe kontrak met gesondheidsdiensverskaffers wat reeds sedert 2017 sloer, is weer uitgestel, die keer tot...

Beeste uit Botswana vul tekort aan

16 ure gelede | Byvoegsels

Ronelle Rademeyer - Sowat vier maande nadat Botswana sy grens vir die uitvoer van lewende slagbeeste na Namibië oopgestel het, kon Meatco op Dinsdag 18...

Boer skiet glo 'mieliedief'

16 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - 'n Boer van Tsumeb het Maandag op ‘n klag van poging tot moord in die landdroshof verskyn nadat hy glo ‘n vermeende...

Weer, Woensdag 26 Februarie 2020

16 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolkte en baie warm weer sal in die Kunene-Wesstreek heers. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees met geïsoleerde,...

Samherji-werkers afgelê

16 ure gelede | Misdaad

Leandrea Louw – Sowat 210 werknemers van die vaartuie MV Saga en MV Geysir gaan aanstaande maand afgelê word. Die werknemers is vroeër vandeesmaand gestrand...

Posisioneer jouself betyds vir groter wins

16 ure gelede | Landbou

Christo du Plessis, Dierevoedingskundige: Feedmaster – In hierdie artikel kyk ons na die sleutelkwessies in rooivleisproduksie wat wins dryf, en hoe fosforaanvulling produsente se winsgewendheid...

N$14 miljoen vir kragprojek bewillig

16 ure gelede | Regering

Yandi du Plessis - ’n Sooispitseremonie vir die voorsiening van krag aan die Otjomuise- en Havana informele nedersettings het Vrydag in Otjomuise in die hoofstad...