DStv Media Sales met miljoene beboet
DStv Media Sales met miljoene beboet

DStv Media Sales met miljoene beboet

Die Suid-Afrikaanse Mededin­gingskommissie het DStv beboet en die maatskappy het ingestem om altesaam R180 miljoen vir sy sondes te betaal.
DStv Media Sales is met R180 miljoen beboet oor prysvasstelling.

Die maatskappy het erken dat hy pryse en handelsomstandighede vas­gestel het en sodoende die Mededingingswet oortree het, sê die Suid-Afrikaanse ­Mededingingskommissie.

DStv Media Sales word deur MultiChoice besit en verkoop kommersiële lugtyd en uitsaai-borgskappe vir meer as 70 van DStv se betaaltelevisiekanale, wat M-Net en SuperSport insluit.

Ingevolge 'n ooreenkoms tussen die kommissie en die maatskappy gaan die oploopbare remedie R180 miljoen beloop. Dit sluit 'n administratiewe boete van R22 262 599 in.

Die saak handel oor 'n ondersoek wat in November gedoen is en waarin bevind is dat verskeie mediamaatskappye, deur Media Credit Co-Ordinators (MCC), ooreengekom het om soortgelyke afslag en betalingsvoorwaardes aan advertensieagentskappe te bied wat advertensies plaas by lede van die MCC.

Agentskappe wat by die MCC geakkrediteer is, is 'n afslag van 16,5% aangebied vir betalings binne 45 dae vanaf die rekening, terwyl agentskappe wat nie lede is nie, 15% aangebied is.

Die kommissie het bevind dat dié praktyk mededinging belemmer het omdat hulle nie onafhanklik 'n element van prys bepaal het in die vorm van afslag of handelsvoorwaardes nie. Dit is prysvasstelling en die vasstelling van handels­omstandighede en is 'n oortreding van die Mededingingswet, sê die kommissie.

Die maatskappy gaan ook R8 miljoen oor drie jaar aan die Ekonomiese Ontwikkelingsfonds betaal om onder meer die ontwikkeling te ondersteun van swart beheerde klein media- of advertensieagentskappe wat kapitaal benodig. Die geld sal ook aangewend word om swart studente wat in die media- of advertensiewese wil studeer, geldelik te ondersteun.

DStv Media Sales het verder ingestem om 25% ekstra lugtyd te bied vir elke rand van lugtyd wat kwalifiserende klein agentskappe koop. Volgens die Mededingingskommissie sal dit kleiner agent­skappe help om beter in die mark deel te neem. Die ekstra lugtyd sal oor 'n tydperk van drie jaar gebied word en is onderhewig aan 'n totale jaarlikse lugtydplafon van R50 miljoen.

MultiChoice sê die boete wat DStv deur die Mededingingskommissie opgelê is, hou met 'n ou bedryfspraktyk met advertensies verband.

“Die Mededingingskommissie het 'n lank bestaande praktyk ondersoek wat in die hele mediabedryf gebruik word en wat DStv Media Sales ook gevolg het,” het MultiChoice in 'n verklaring gesê.

“Die Mededingingskommissie het sy ondersoek voltooi en gevind die praktyk oortree wel die Mededingingswet.

“DStv Media Sales het met die kommissie saamgewerk in sy ondersoek en het verantwoordelikheid aanvaar dat hy deel van hierdie bedryfspraktyk was.”

“Die maatskappy het reeds die vereiste veranderinge aangebring aan iets wat 'n praktyk oor die hele bedryf heen was,” lui DStv se verklaring. – Netwerk24/Fin24

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer