Du00eds hoekom rand nie gly nu00e1 Zuma bly
Du00eds hoekom rand nie gly nu00e1 Zuma bly

Dís hoekom rand nie gly ná Zuma bly

Die rand se flou reaksie Maandag­oggend op die nuus dat Jacob Z­uma aanbly as president, dui daarop dat beleggers die opbrengs wat hulle in Suid-Afrika kan vind, nog te smaaklik vind om hulle deur die politiek te laat afskrik.
Nellie Brand-Jonker - Netwerk24 het Maandag berig alle oë is op die rand om te sien of dit weer tot bo R13 gaan verswak.
Sommige ontleders het verlede week, toe die rand tot onder R13 versterk het, gesê dit is weens die hoop dat Zuma die naweek op die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) met 'n mosie van wantroue uit die kussings gelig sou word.
Die mosie waarin Zuma gevra is om te loop, is Sondagaand verwerp.
Die rand het tot dusver Maandag tot R12,99 verswak – 12c swakker as Vrydag se sluitingsprys van R12,87. Die rand het gisteroggend weer bo die R13-vlak verhandel en om 09:50 teen R13,06 teenoor die dollar verhandel.
Goud het sy goeie prestasie gehandhaaf en bykans onveranderd teen US$1 268,21 per fynons verhandel.
Bloomberg berig beleggers steun weer eens goud as toevlugsoord weens onsekerheid oor die Britse verkiesing, die vooruitsig van 'n vervroegde verkiesing in Italië en kommer oor Griekeland se skuld.
Barclays sê die vloei van geld na opkomende markte waar hoër opbrengste verdien kan word, help die rand, selfs al is die politieke risiko hoër.
Beleggers het verlede week R5,3 miljard in staatseffekte belê, berig Bloomberg.
“Daar is 'n stroom geld daar buite wat bly vloei na opkomende markte se bates om uit drahandel voordeel te trek,” sê Mitul Kotecha, hoof van valutastrategie van Barclays in Singapoer.
Drahandel verwys na die gebruik om geld in een land te leen teen lae rente­koerse en dit te belê in 'n ander land waar hoër opbrengste verdien kan word.
Hy sê die vloei van geld na opkomende markte duur voort ten spyte van nuus soos dié oor Zuma, wat 'n mens kon verwag die teenoorgestelde ­uitwerking sou hê.
Reuters het Vrydag berig NKC African Economics meen die rand het versterk saam met ander opkomende geldeenhede omdat baie geld na dié lande se ­effektemarkte vloei.
“Internasionale beleggers vind steeds die opbrengste op Suid-Afrikaanse effekte aantreklik ten spyte van die hoër risiko.
“Bates in opkomende markte het voordeel getrek uit die aptyt vir risiko internasionaal,” sê Annabel Bishop, hoof­ekonoom van Investec Bank, volgens Reuters. Sy sê inligting van die Instituut vir Internasionale Finansies (IIF) toon buitelanders het 'n netto US$89 miljard in die eerste vier maande van die jaar in die aandele en effekte van dié lande belê.
Verlede jaar is 'n netto US$38 miljard se aandele en effekte deur buitelanders gekoop en in 2015 US$48 miljard.
“Hierdie jaar het sterker begin. Dit kan volg in die voetspore van die vorige tydperk toe die aptyt vir risiko toegeneem het van 2009 tot 2014, of dit kan teen die middel van die jaar afneem.”
In Suid-Afrika was daar in die eerste vier maande van die jaar nie 'n netto aankope van aandele nie. Buitelanders het eerder aandele verkoop as gekoop, maar hulle belê steeds in Suid-Afrikaanse effekte.
“Die positiewe marksentiment het veroorsaak dat die rand deur R13 per dollar breek.”- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer