Drukgroep ‘treur’ oor Algemene Sinode

Wil hê NG Kerk Namibië moet losskeur van SA

10 August 2021 | Maatskaplik
Ronelle Rademeyer – Behoudende predikante en gemeenteleiers van 20 van die 45 gemeentes van die NG Kerk in Namibië (NGKN) vergader Vrydag op Okahandja om dolering te bespreek en daarmee te sê hulle “treur en is bekommerd oor die toestand in dié kerk”.

Die saamtrek is deur ’n drukgroep in die NGKN, Sola Scriptura, gereël. Dié groep sê in ’n verklaring die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk se uitgangspunt is nie meer getrou aan die Bybel nie, maar eerder daarop ingestel “om almal te akkommodeer en gelukkig te hou”.

Hiermee verwys hulle na die AS se aanvaarding in 2019 van selfdegeslagverhoudinge, maar ook na die meer liberale of vrysinnige interpretering van die Bybel.

Sola Scriptura sê in ’n verklaring die AS is die afgelope jare “al meer geneig om besluite te neem wat nie meer met sekerheid op die Woord van die Here alleen gegrond is nie”.

Dit is waarom hulle Namibiese NG gemeentes gaan vra om soos Die Strand-gemeente in die Wes-Kaap te doleer.

“Dit beteken nie ons wil wegbreek van die kerk af nie. Inteendeel, ons wil sê ons treur oor die rigting wat die kerk inslaan en wil die kerk help om terug te keer na die Woord van die Here,” sê ds. Ernst Coetzee, een van die predikante in die Sola Scriptura-groep.

“Daar is tans in die NG Kerk (hier en in Suid-Afrika) al hoe meer stemme van gemeentes en selfs ringe wat dit oorweeg om te doleer,” sê Sola Scriptura in sy verklaring.

Op ’n praktiese vlak sal ’n kerkraad wat besluit het om te doleer, die ring en sinode in kennis stel. So ’n kerkraad kan dan sy leraar versoek om nie enige kursusse van die NG Kerk by te woon nie, “aangesien die dwaling weg van die Woord in menige geval sy oorsprong by teologiese opleiding het”, sê die groep.

Dié drukgroep vereenselwig hom met die siening van behoudende lidmate in Suid-Afrika wat onder die Moreleta Kairos Netwerk (MKN) groepeer.

MKN beoog om teen volgende jaar ’n nuwe sinode op die been te bring en ’n eie beleid en kerkorde te vestig.

Coetzee sê dié kwessie sal ook by Vrydag se vergadering bespreek word.

Intussen het ds. Johannes Maritz, wat pas deur die NGKN tot moderator van die Namibiese sinode verkies is, gister gesê hy is nie bewus van die vergadering nie.

“Ons beleid as moderatuur is nie om nie uitsprake te maak as ons nie eers met mekaar gepraat het nie. As moderamen is ons nie bewus van die byeenkoms nie,” sê hy.

“Ons uitgangspunt is om as kerkgroep en -familie met mekaar oor sulke kwessies te praat. Weens Covid-19 is ons verhinder om dit te doen. Die sinodesitting wat in Maart sou plaasvind, is na Augustus uitgestel en toe weer na Maart volgende jaar.”

Maritz volg ds. André Olivier as moderator op. Laasgenoemde, wat sedert 2011 predikant van die Aranos-gemeente was, het onlangs afgetree. [email protected]

Soortgelyk

 

Vier sterftes, 25 nuwe gevalle

8 ure gelede | Gesondheid

Die Covid-sterftes styg met vier (een tuissterfte) tot 3 538. Gister is 25 nuwe gevalle aangemeld, 'n positiewe koers van 2,2%. Dit sluit drie leerlinge,...

PAS IN: Drie uit ses skuldig aan moord

12 ure gelede | Howe

‘n Vrou wat ‘n groep mans betaal het om haar man te vermoor, is vandag in die hoërhof in Windhoek skuldig bevind aan moord.Die oorledene...

MTC en regering gaan saamwerk om inentings teen Covid...

13 ure gelede | Gesondheid

'n Inisiatief tussen die regering en die mobiele telekommunikasiemaatskappy MTC, “Namibia VaxUP081 Incentive", gaan inwoners vergoed wat hul eerste dosis entstof teen Covid-19 ontvang. Volgens...

Net 14,2% van bevolking ten volle ingeënt

13 ure gelede | Gesondheid

Terwyl Namibië se doelwit was om 750 000 van die land se 1,5 miljoen geoormerkte persone vir immunisering teen Donderdag in te ent, het net...

Aandklokreël opgehef

14 ure gelede | Regering

President Hage Geingob het die aandklokreël amptelik as deel van die nuwe Covid-19-regulasies opgehef. Openbare byeenkomste kan deur 200 persone bygewoon word, so ook dieselfde...

Tweede lugmagongeluk binne enkele weke

1 dag gelede | Ongelukke

Tunohole Mungoba en Ellanie Smit‘n F-7 vegvliegtuig van die Namibiese lugmag het vroeër vandag by die Ondangwa-lughawe neergestort.Die weermag het joernaliste wat kort na die...

Creativity and mental health: Where do we overstep

1 dag gelede | Gesondheid

Kalistu R Mukoroli, PR and brand strategistWe tend to preach about being creative, but isn’t this contributing to mental health issues? Creative people always push...

Tourism mogul driven by passion

1 dag gelede | Toerisme

Iréne-Mari van der Walt Part-owner of Swakop Cycle Tours Paul Ndjambula says despite his business being conceptualised during his time as an intern, it took...

Kalahari se water in die gedrang

1 dag gelede | Omgewing

Frank Steffen en Brigitte Weidlich – “Dit mag eenvoudig nie gebeur nie! Maak nie saak hoe jy uitloogproses benader nie, hierdie unieke kom sal onvermydelik...