Droogteboer wen appèl
Die N$50 000-boete wat 'n boer ontvang het nadat hy sy uitgehongerde beeste sonder 'n permit van sy plaas verskuif het, is in die hoërhof ter syde gestel.
Jacqueline Louw
Twee regters van die hoërhof in Windhoek het Vrydag 'n boete van N$50 000 wat mnr. Henry Jacobus Mapanka opgelê is, nadat hy sy beeste sonder 'n permit hervestig het, ter syde gestel en met 'n opgeskorte vonnis vervang.
Regter Christie Liebenberg het in die appèluitspraak wat Mapanka (63) se vonnis omverwerp, gesê die feite in Mapanka se saak is buitengewoon en verg 'n meer menslike benadering.
Mapanka, wat reeds 'n groot aantal beeste weens die droogte verloor het, het verlede jaar aansoek gedoen om 'n permit om sy beeste na beter weiding te verskuif. Toe die permit ná drie weke nog nie toegeken is nie, het Mapanka sy uitgehongerde diere sonder die vereiste magtiging geskuif.
Mapanka, wat vier kinders en agt kleinkinders onderhou en geen ander inkomste as sy boerdery het nie, is so te sê finansieel deur die droogte geruïneer. Toe hy sy beeste aan die begin van Mei verlede jaar van die plaas Palmpos na Rietplaas verskuif het, is hy in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat hy artikel 25(1a) van die Wet op Dieregesondheid oortree het. Hy is op 16 Mei vanjaar 'n boete van N$50 000 in die Khorixas-landdroshof opgelê.
Mapanka het die boete betaal, maar as gevolg van sy ontevredenheid met die vonnis, het hy 'n appèl by die hoërhof in Windhoek ingedien.
Dit is aan die hof vertel dat terwyl hy gewag het vir die toekenning van die permit om sy beeste te skuif, het 14 van sy diere van honger gesterf. Regter Liebenberg het gesê die persoonlike omstandighede waaronder Mapanka die misdryf gepleeg het, verg 'n toegeeflike benadering tot vonnisoplegging.
Mapanka het as rede vir die appèl aangevoer dat die landdroshof nie sy persoonlike omstandighede behoorlik oorweeg het toe die vonnis opgelê is nie. Gedurende die aanhoor van die appèl het die staat toegegee dat die vonnis “skokkend onvanpas” was.
Die staat het in die landdroshofverhoor 'n boete van N$2 000 of een jaar tronkstraf aanbeveel, maar landdros Hamunyera Mutuku het gesê “die hof sal genadig wees om nie die maksimum straf van N$100 000 of vyf jaar tronkstraf op te lê nie”.
Liebenberg het verder bevind dat Mapanka se vonnis die landdroshof se magte om slegs 'n maksimum vonnis van N$20 000 of vyf jaar tronkstraf op te lê, oorskry het.
Regter Alfred Siboleka het saam met regter Liebenberg se beslissing gestem dat Mapanka se vonnis met 'n boete van N$5 000 en tronkstraf van twee jaar, opgeskort vir 'n tydperk van vyf jaar, vervang moes word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie