Droogte dwing diere dorp toe
Boere is gewaarsku dat beslag op rondlopervee gelê sal word.
Augetto Graig - Mnr. Luke Salomo van die Grootfontein-munisipaliteit sê dit gaan rof op die dorp weens diere wat in die strate rondloop en groot ontwrigting veroorsaak.
“Ons kry tot diere wat ons hier by die munisipaliteit kom besoek,” sê hy. “Die diere veroorsaak motorongelukke, en beskadig eiendom en munisipale waterpyplyne.”
Op 18 en 19 November is met veewagters en betrokke boere vergader, sê Salomo.
Eienaars van rondloperdiere is gewaarsku dat die dorpsraad dit nie meer sal duld nie. Beeste, bokke, donkies en perde moet onmiddellik uit die dorpsgebied verwyder word.
Vanaf Maandag 25 November 2019 word beslag op rondloperdiere in die dorp gelê. Hulle sal in die munisipale skut by die slagpale gehou word totdat ’n boete per dier betaal is.
“Ons weet daar is 'n droogte en wil die plaaslike boere tegemoetkom,” sê hy.
“Die hele land is deur die droogte geraak. Nogtans moet ons die publiek en die boeregemeenskap bewus maak dat die vee wat so rondswerf, ’n oorlas vir die publiek is. Hulle kom tot in die sentrale sakegebied omdat dit groen is hier.”
Volgens Salomo is daar tussen 250 en 300 stuks vee van ses of meer boere wat net buite die dorp uitkamp. Desperate boere kom van so ver as Omaruru, Otjinene en Okakarara, maar hulle meld nie by die munisipaliteit aan nie. “Ons het nou ’n meganisme om beslag op die vee te lê. Ons sal die diere slegs teruggee nadat die boete betaal is. Dit is in opdrag van die ministerie,” sê hy.
Van die veewagters blokkeer die rioolpype met klippe sodat dit oorloop en hulle só water vir hul diere kry, sê hy.
Intussen het iemand glo ’n trog agter die staatsgarage op munisipale grond opgerig, met ’n pyp onderdeur die pad om die bak vir die diere vol te hou.
Hieroor het Grootfontein se uitvoerende hoof, mnr. Arnold Ameb, gesê hy stuur onmiddellik die verantwoordelike departement om ondersoek in te stel. “Ons sal optree.”
Die munisipaliteit is van plan om volgende jaar die dorp deeglik skoon te maak.
Salomo sê hulle sal die rioolpype skoonmaak en vreemde voorwerpe daarin verwyder. Daarmee wil hulle ’n moontlike hepatitis-uitbreking voorkom.
Volgens Salomo is van Grootfontein se riool- en waterinfrastruktuur meer as 100 jaar oud. “Die ondergrondse infrastruktuur moet opgeknap word,” sê hy.
Die dorp se spog- jakarandabome se wortels veroorsaak ook probleme. “Die wortels sprei uit en beskadig die teerpaaie, waterpype, dreins en rioolpype.
“Ou pype kraak mettertyd, sand en klippe beland daarin en verstop dit. Dit is nie weens die dorpsraad se nalatigheid nie.
“Daar is mense wat plastieksakke, blikkies en bottels in die dreineringstelsel gooi en dit verstop. Mense verniel die dorpsraad se eiendom en dit vat ‘n groot hap uit die begroting om dit te herstel of vervang.
“Dit is intensiewe werk en ons versoek die gemeenskap om blokkasies aan te meld by 067 243 100 sodat ons loodgieters en algemene werkers kan stuur om dit reg te maak,” sê hy.
Die koste om die hele stelsel te hernu, is groot en die munisipaliteit sal finansiering van die sentrale regering moet kry.
Daar is reeds aansoek gedoen vir finansiële hulp om die dorp se oksidasiedam te vergroot, sê Salomo.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie