Drie kinders verdrink in Noorde

Ambulansman ‘dronk’

14 January 2020 | Ongelukke
Verskeie mense het oor die naweek in gronddamme en waterpoele in die Noorde verdrink, lui die polisie se misdaadverslag.

Fillemon Ngoloti (10) het Vrydag op ’n onbekende tyd diere saam met ander kinders in die veld opgepas.

Hy het die aand nie huis toe teruggekeer nie.

Later is ontdek hy het glo in ’n gronddam verdrink.

Die voorval het in die Onambaba- nedersetting in Omungwelume plaasgevind.

Ook in Omungwelime het Mathias Shikomba (6) en Tomas Kambalala (12) in die Endola-nedersetting in ’n gronddam verdrink.

Die twee seuns het Vrydag diere opgepas en nie huis toe teruggekeer nie. Hul lyke is in die gronddam gevind.

Die ouer seun het die jonger een glo uit die water probeer red toe hy ook verdrink het.

Wanailongo Tangeni (18) het Sondag na wat verneem word omstreeks 11:00 in die Okambonde-nedersetting op Oniipa verdrink.

Hy en twee vriende het glo in ’n waterpoel gaan swem toe die voorval plaasgevind het.

Saterdag het me. Hilya Petrus (57) glo in die Othilu Okandongwena-nedersetting in Ongwediva by haar huis in ’n waterpoel verdrink.

Mnr. Timoteus Mwaxauulange (53) het Sondag om 11:00 glo in die Onjandjo-nedersetting naby Ondangwa in ’n gronddam verdrink.

Ongelukke

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het die bestuurder van ’n staatsambulans Vrydag na bewering ’n kop-teen-kop-botsing veroorsaak.

Die ongeluk het om 21:45 op die hoek van Hans Dietrich Genscherstraat en Onafhanklikheidsrylaan plaasgevind.

Die ambulansbestuurder het glo gedraai sonder om aankomende verkeer in ag te neem, terwyl daar geen noodgeval was nie.

Hy het van voor af teen ’n sedan gebots.

Die ambulansbestuurder is toe in verband met dronkbestuur in hegtenis geneem.

Daar was geen pasiënt in die voertuig nie, en die sedan se insittendes is lig beseer.

Vrydag om 13:00 het ’n motorbestuurder beheer oor die voertuig wat hy bestuur het, verloor toe hy ’n ander voertuig wou verbysteek.

Die voertuig het omgeslaan en twee mense, Uakapima Ngumbi en Tjikotomba Tjingee, het op die toneel gesterf.

Sewe insittendes, insluitende die bestuurder, is met beserings in die Opuwo-staatshospitaal opgeneem.

Die voorval het op die grondpad tussen Opuwo en Otavi plaasgevind.

Die bestuurder was glo nie in die besit van ’n wettige rybewys nie.

’n Man (27) het Vrydag om 17:45 glo ’n voertuig sonder die eienaar se toestemming geneem en in Kasingastraat in die Usab-nedersetting by Karibib teen ’n stilstaande sedan gebots.

Die sedan het stilgestaan omdat die eienaar besig was om herstelwerk aan die voertuig te doen.

Drie mense is in die botsing beseer en ’n inwoner van Swakopmund, mnr. Masen Awaseb (28), het op die toneel gesterf.

Die verdagte het van die toneel gevlug en homself die volgende dag aan die polisie oorhandig.

Hy is glo nie in die besit van ’n geldige rybewys nie.

Sondag om 17:00 het die bestuurder van ’n voertuig op die grondpad tussen Berseba en Gainachas glo beheer oor die voertuig verloor en dit het omgeslaan. Die passasier, mnr. Christian Kulhman (19), is uit die voertuig geslinger en het op die toneel gesterf.

Die bestuurder (21) is met ernstige beserings in die Keetmanshoop-staatshospitaal opgeneem. Hy is glo nie in die besit van ’n wettige rybewys nie.

Saterdag het ’n voertuig me. Albertina Aron (28) glo op die hoofpad tussen Oshikuku en Elim by die Iingombwele-nedersetting omgery. Sy het op die toneel gesterf.

Die bestuurder is nog nie in hegtenis geneem nie en die polisie ondersoek die saak.

Sers. S.N. Akumbi is Sondag dood toe die voertuig omgeslaan het wat hy bestuur het.

Hy het op die Tsumkwe-grondpad gery en wou glo ’n botsing met beeste vermy, wat in die pad gelê het.

Hy het na wat verneem word uitgeswaai en die voertuig het omgeslaan.

Vyf passasiers is beseer en na die Mangetti-kliniek geneem.

Soortgelyk

 

Twee 'renosterstropers' verskyn in Gobabis-hof

1 uur gelede | Howe

Twee vermeende renosterstropers het vandag in die landdroshof op Gobabis verskyn.Mnre. Alberto Mbwale en Joseph Matheus het op klagte van die onwettige jag van spesiaal...

Pastoor Babi steeds agter tralies

5 ure gelede | Howe

Pastoor Jackson Babi (30) van die House of Joy Ministries en sy medebeskuldigde, mnr. Friza Dumeni (25), bly steeds agter tralies.Landdros Linus Samunzela het vanoggend...

25ste Covid-19-geval bevestig

7 ure gelede | Gesondheid

'n Vroulike gesondheidswerker (32) is Namibië se jongste Covid-19-geval. Dit bring die aantal bevestigde Covid-19-gevalle in Namibië op 25 te staan. Volgens die minister van...

Hof hoor president is 'mislei' oor arbeidsregulasies

17 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer - Pres. Hage Geingob is “verkeerd geadviseer” met die opstel van die gewraakte arbeidsregulasies waarvan die grondwetlikheid Vrydag in die hoërhof deur Namibiese...

Namibiërs in haglike omstandighede onder SA-kwarantyn

17 ure gelede | Gesondheid

Twee vroue van Windhoek en die een se 16-jarige dogter meen die vervalle staatshospitaal by Nababeep naby Springbok in die Noord-Kaap waar hulle in kwarantyn...

'Profeet' Babi se borgaansoek vandag

17 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg – Die bekende, charismatiese en selferkende profeet van die House of Joy Ministries, pastoor Jackson Babi (30), en sy medebeskuldigde, mnr. Friza Dumeni,...

Twee bemanningslede positief vir Covid-19

17 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht & Leandrea Louw – Walvisbaai huisves tans drie aktiewe gevalle van Covid-19 ná ‘n 51-jarige man Saterdag positief vir die virussiekte getoets het....

Fishrot-manne skarrel vir borgtog

17 ure gelede | Misdaad

Augetto Graig – Die Windhoek-landdroshof het Vrydag met verskeie Fishrot-sake gewemel, met borgtogaansoeke wat met aansoeke vir die verlenging van tyd vir verdere ondersoek, meegeding...

Weer, Maandag 1 Junie 2020

17 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die Zambezi- en Kavangostreek. Elders sonnig en warm tot baie warm. Winderige weer sal oor die binneland heers....