Drama met Warner, Labuschagne in Aussie-sege
Drama met Warner, Labuschagne in Aussie-sege

Drama met Warner, Labuschagne in Aussie-sege

Krieket
Drama is sy middelnaam. Is dit dus enigsins ’n verrassing dat die parmantige Aussie-aanvangskolwer David Warner gister die spilpunt van omstredenheid was in sy span se derde toets teen Nieu-Seeland?

Warner (111*) se honderdtal op dag vier in Sydney het die Aussies gehelp om die Kiwi’s ’n derde agtereenvolgende pak slae (met 279 lopies) toe te dien, maar nie voordat hy sy misnoeë met ’n skeidsregtersbeslissing te kenne gegee het nie.

Die Pakistanse witjas Aleem Dar het die Aussies gestraf nadat Warner en Marnus Labuschagne (59) op die beskermde deel van die kolfblad reg voor die paaltjies getrap het terwyl hulle lopies gehardloop het.

Dar het vyf straflopies aan Nieu-Seeland toegeken.

“Wat doen ek verkeerd?” het Warner volgens 7News aan Dar gevra.

Dar het eers die Suid-Afrikaans gebore Labuschagne gewaarsku. Die reël bepaal dit is “onregverdig om opsetlike of vermydelike skade aan die blad aan te rig” en dat ’n kolwer homself onmiddellik van die beskermde deel van die blad moet verwyder nadat hy ’n hou gespeel het.

Al wys die beeldmateriaal dat Warner in die middel van die blad hardloop, het die voormalige Australiese kolwers Michael Slater en Simon Katich beide in hul regstreekse TV-kommentaar Dar se oordeel in twyfel getrek.

“Daar is geen bedoeling van enige van die twee om die blad te laat verweer nie,” het Slater gesê.

“Dit is belaglik. As jy op middelpen slag neem, soos David Warner, is dit baie moeilik om onmiddellik van die blad af te kom,” het Katich bygevoeg.

Labuschagne het later, ietwat teatraal, sy arms in Dar se rigting geswaai terwyl hy ’n lopie bykans langs die blad voltooi het. Asof om te vra: “Is ek nóu reg?”

Die vyf straflopies het egter geen invloed op die uitslag van die toets gehad nie. Die Aussies het hul tweede beurt op 217/2 gesluit verklaar en die Kiwi’s dus ’n wenteiken van 416 gestel.

Die draaier Nathan Lyon het 5/50 laat kantel om met tien paaltjies in die toets te eindig en Nieu-Seeland vir 136 te help uitboul.

Labuschagne se 549 lopies in die reeks, teen 91.50, het aan hom die Speler van die Reeks-prys besorg. Saam met sy lopies in die twee toetse teen Pakistan het Labuschagne 896 lopies in vyf toetse in die Australiese tuissomer aangeteken. Dit sluit vier honderdtalle in, waarvan die een in dié toets ’n dubbele honderdtal was.

Labuschagne was ook nie die enigste gebore Suid-Afrikaner wat in dié toets in aksie was nie. Daar was drie van hulle in die Kiwi-span.

Benewens Neil Wagner en BJ Watling het Glenn Phillips sy toetsbuiging in dié toets gemaak en 52 in die eerste beurt aangeteken.

Phillips (23) is in Oos-Londen gebore en het saam met sy ouers na Nieu-Seeland verhuis toe hy vyf jaar oud was.

Die statistikus Andrew Samson het getwiet hy is die 26ste gebore Suid-Afrikaner wat toetskrieket vir ’n ander land speel. Volgens Samson was daar reeds 14 Suid-Afrikaners wat vir Engeland toetskrieket gespeel het, ses vir Nieu-Seeland, drie vir Zimbabwe, twee vir Australië en een vir Ierland. – Cricinfo, 7News, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer