Drakragsom skets nuwe beeld oor grondbesit

Die Oshikotostreek het die punt bereik waar voorheen benadeeldes méér grond as wit boere besit.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - As grondbesit in Namibië volgens drakrag bereken word, besit wit Namibiërs 33% van die totale drakrag-kapasiteit van Namibië.

Dié syfers is geskoei op die amptelike drakrag-kaart van die ministerie van landbou, water en bosbou.

“Boonop blyk dit sowat 300 000 ha landbougrond verwissel jaarliks van wit na voorheen benadeelde hande. Die Oshikotostreek is die voorloper, waar daar nou vir die eerste keer meer grond in voorheen benadeeldes se besit is as wat in die hande van wit boere is.”

Tydens die Namibië Landbou-unie (NLU) se 72ste jaarkongres op 11 Oktober vanjaar, het me. Rina Hough dié syfers uit hul databasis onthul om grondbesit in Namibië in perspektief te plaas.

Dít kom nadat plaaslike media verkeerdelik berig het wit boere besit 70% van alle landbougrond, met president Hage Geingob wat glo die verkeerde statistieke tydens sy amptelike toespraak namens Namibië by die Verenigde Nasies (VN) herhaal het.

“Die NLU is die enigste liggaam wat oor ‘n betroubare, opgedateerde databasis van kommersiële grondeienaarskap in Namibië beskik. Die inligting word dikwels deur onder meer die regering, asook die Namibië Statistiekagentskap aangevra,” het Hough gesê.

Sy het gesê hulle kry ook inligting by die aktekantoor, maar dit is nie genoeg om te weet wat presies op voetsoolvlak aangaan nie.

“Dit is hoekom ons tweejaarliks inligting op voetsoolvlak van ons lede versamel, soos ons weer vanjaar in Junie ter voorbereiding van die tweede nasionale grondkonferensie gedoen het,” het sy gesê.

“Ons sien jaarliks ‘n afname in die hoeveelheid grond wat in die besit van wittes is, terwyl grondbesit onder voorheen benadeeldes toeneem,” het Hough gesê.

SÓ BEREKEN

Mnr. Roelie Venter, die NLU se uitvoerende hoof, het op die jaarkongres verduidelik drakrag word in kilogram per hektaar gemeet.

“Die noordooste het byvoorbeeld ‘n drakrag van meer as 30 kg per ha, terwyl die Suide of die sogenaamde ‘rooi gebiede’ 4 kg per ha en minder het,” het hy verduidelik.

“Ons het alle eienaarskap in Namibië aan drakrag gaan koppel. Dit beteken ons het bereken hoeveel beeste Namibië in totaal volgens drakrag kan dra, wat die potensiaal is en hoeveel hiervan in wit en voorheen benadeeldes se besit is.

“Daar bestaan egter baie teenargumente oor die metode, en die data moet met groot omsigtigheid hanteer word. Dít omdat sekere gebiede wat dalk sterk drakrag het, nie ondergrondse water het nie of ‘n sterk indringing van gifplante het.

“Ons is egter nog besig om aan hierdie data te werk. Daar is ‘n projek hieroor by die ministerie van grondhervorming aan die gang, waarvolgens die agro-ekologiese sones van die land gefinaliseer sal word. Die doel is om grondwaardasies vir hervestigingsdoeleindes hierop te baseer – wat die regte benadering is, omdat dit op wetenskaplike beginsels gegrond is,” het Venter gesê.

GEHEELBEELD

Hough het gesê Namibië is in totaal sowat 82 miljoen ha groot, waarvan kommunale grond oor sowat 37% beslaan en titelakte-gebiede oor 46%.

Hough sê die res word deur parke, versperde gebiede, asook grond wat aan streeksowerhede behoort, in beslag geneem.

“Jy kan egter nie nét na titelakte-gebiede kyk en dan ‘n geheelbeeld wil vorm van die besit van landbougrond nie.

“Landbougrond beslaan sowat 68,5 miljoen ha, waarvan die titelaktegebied 56% beslaan en die kommunale gebied 44%. Dit verander die prentjie.

“As jy dus alle landbougrond inreken, besit voorheen bevoordeeldes net sowat 40% grond en voorheen benadeeldes besit die res, wat onderverdeel kan word in kommunale grond, regeringsgrond en hervormingsgrond,” het Hough gesê.

“As ons nie na die geheelbeeld kyk nie, beteken dit ons misken kommunale landbougrond, waarop 1,8 miljoen beeste is en honderde duisende tonne graan, mahangu en mielies geproduseer word, en waar meer as ‘n miljoen stuks kleinvee is,” het Venter gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer