Drake kry ook puisies.
Drake kry ook puisies.

Drake kry ook puisies.

Karin Eloff
PMS. Kom ons praat daaroor, want dis real.

En diegene wat dink dis onbetaamlik om daaroor te praat, kom by. Ek weier om jammer te sê vir wat ek is. Dis deel van die lewe.

PMS is nie net ’n fragment van iemand se verbeelding waarvoor elektriese skokke in die Middeleeue sou gehelp het nie. Dis real en dis nie baie mooi nie. Kom ons sê dit nou maar reguit. PMS is ’n feit soos ’n koei - daai koei waarin ek verander wanneer ek PMS het.

Spruit sê dit maak haar bang, want ek raak stil. Nie histeries en huilerig soos baie vrouens raak nie. Net stil. Doodstil. Onheilspellend stil. Vir daai een week ’n maand duld ek bitter min menslike interaksie. En ek raak emosieloos. Bot, toe, plat, afgestomp, psigopaatagtig, wat jy dit ook al wil noem. Spruit sê sy dink ek sal iemand kan verwurg sonder om ’n spiertjie te verroer, sonder enige aggressie, geluid of heavy breathing.

Ek beweeg ook bitter min wanneer ek PMS het, maak geen uitspattige bewegings of swaai selfs my kop skielik om nie, want eintlik is my binneste verwoed besig om te baklei vir balans, beheer, stabiliteit en om nie uit te freak nie.

Die geringste geluid irriteer my – veral die geluid van iemand wat skielik lag of giggel. Veral mense wat praatsiek is. Veral hoë stemme. En veral mense wat dramas gooi. Selfs boodskappe op my rekenaar wat sê “Your antivirus subscription has expired” irriteer my. En daai blerrie blou wieletjie wat so aanhou draai. Draai in jou moer in man, ek het nie tyd vir tjorts nie!

En ek's lelik met Spruit. Sy praat te veel en te hard. Ek het empatie met honde. Hoe hou hul ore al die goed wat hulle hoor?! Ná die tyd voel ek baie skuldig teenoor Spruit. Die arme kind kan nie eers vlug nie, want sy bly after all saam met my.



En ek haat myself – alles van my bingo wings, tot my hang boobs en my boude wat al tot amper in my kuite afgesak het. Ek loop in deurkosyne vas met my bingo wings en ek trip oor teëls. Gladde, plat teëls. Sónder patrone.

En ek kry puisies. Of op my ken, óf sommer reg tussen my oë soos ’n wafferse third eye. Ek voel net nie baie spiritual nie.

En ek kan nie ophou vreet nie. Veral Flings maak my baie opgewonde, of chocolates wat Spruit vir Kersfees gekry het en steeds nie geëet het nie. Ek hou carb-orgies waar niemand my kan sien nie: pizza, brood, samoesas, koek en quiche. En ek sluk dit af met heeltemal te veel rooiwyn – en dán wil ek huil (so ek hét darem emosies, al kos dit drank om hulle te voel).

En dan, sodra die damwalle breek, is die spanning verby en verander ek weer in die huppelende marshmallow wat ek eintlik is. Glo dit of nie, ek's eintlik maar ’n softy. En dan hou Spruit weer van my, en ek van myself en alles is weer lekker.

Ek gaan nie sê ek's skaam oor my PMS nie, want dit sou beteken ek's skaam oor my eie natuur, maar ek gaan ook nou nie maak of ek trots daarop is nie. Wat ek wel kan sê is dat vrouens wat heeltemal ingee en hulself totaal aan hul PMS oorgee, liewers nie regters, onderwysers of eintlik enigiets moet word nie – veral nie ’n ma nie. Dit kan gevaarlik raak. Ons het tog ook rasionele vermoëns en kry een maal ’n maand die ideale geleentheid om te oefen om onsself nie te verloor in die swart gat van intense irritasie nie. Ons moet net aanhou oefen. Aanhou probeer.

Hoe dit ook al sy, ek gaan nou eers ’n chocolate eet. En my puisie poeier.

Kommentaar

Republikein 2025-07-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer