Dra jou masker, asseblief!
Dra jou masker, asseblief!

Dra jou masker, asseblief!

[email protected]
Leandrea Louw
Leandrea Louw

Die week was ek so bekommerd gewees. Ek het ’n geleentheid bygewoon en niemand – nie een nie (behalwe ek) – het ’n masker gedra.

Ek vra myself toe af, is ek by die regte plek? Is ek op die regte planeet?

Ek is toe vreeslik selfbewus omdat ek met ’n masker sit, maar besluit tog om dit aan te hou.

Net die volgende dag gaan maak ek ’n draai by ’n winkelsentrum en ek sien presies dieselfde tendens.

Sekere mense dra glad nie hul maskers nie.

Nou vra ek myself af, hoekom nie?

Die noodtoestand in die land het wel tot ’n einde gekom, maar Covid-19 is nog hier.

Ons gevalle is stadig maar seker besig om te daal, maar dit beteken nie Covid-19 het die aftog geblaas nie.

Daar is verskeie lande oorsee wat al weer onder lockdown is.

Hoekom besef ons nie die erns van die saak nie?

Ja, my hele Facebook-newsfeed is vol van “Covid-19 is ’n klug”, maar ons land se ekonomie is in sy peetjie. Salarisse is gesny, ons sin ook; dit is nie maklik nie. Die rekeninge raak agterstallig; mense moes hul besighede se deure sluit; skole moes toe maak; graad 11- en 12-leerlinge moet nou een van die dae eksamen skryf ná maande van geen skool nie en ons toerismebedryf veg nou om lewe en dood.

En die hartseerste van alles is die mense wat hul lewens verloor het. Mense is dood as gevolg van Covid-19.

Dit is nie net ’n gewone verkoue of griep nie. Ons kan dit nie sien nie, ons weet nie presies hoe om dit te behandel nie.

Al wat gevra word, is dra jou masker, was jou hande en beoefen sosiale afstand.

Ek self is opgesukkel met Covid-19 en al die gepaardgaande maatreëls, maar die virus – die onsigbare vyand – is nog hier. Ek dra my masker en loop met my handontsmetmiddel rond, want ek dink aan my 3-jarige dogtertjie by die huis en my bejaarde ouma wat ek gereeld besoek.

Nie een van ons weet hoe ons liggaam teen die virus gaan reageer nie, maak nie saak of jy sieklik of gesond is nie. Dit is angswekkend om daaraan te dink.

Frankryk, Duitsland en Engeland het nou te doen met ’n tweede golf Covid-19-gevalle. Laat dit insink, asseblief.

Dra asseblief jou “bekjassie”, nie vir jou nie, maar vir die mense rondom jou. Kom ons kyk na mekaar en gee om vir mekaar; dit is nou nodiger as ooit tevore.

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer