Dorslanders tem Sani2C

Mannie Heymans en Courtney Liebenberg was die enigste Namibiese span in 'n podiumposisie.
Tielman van Lill
Tielman van Lill

’n Klompie Namibiërs het die afgelope week in KwaZulu-Natal in die gesogte Sani2C-spanresies meegeding en uitstekend gevaar oor die afstand van 265 kilometer, tussen 765 suksesvolle ryers wat die kompetisie oorleef het.

Die resies is oor drie dae en drie skofte van 82 km (1 175 meter vertikale klim), 97 km (1 485 m klim) en 86 km (786 m klim) beslis.

Namibië se 49-jarige driemalige Olimpiese ryer Mannie Heymans en Courtney Liebenberg (Mannies Bike Mecca) het as ’n gemengde span in die hoofresies die kettings laat kraak en algeheel tweede teen gerekende teenstand van 46 spanne geëindig. Die duo het uitstekend as ’n span saamgewerk, met net die gesoute SA paar Ben Melt Swanepoel en Yolandi du Toit wat in elke skof voor hulle gebly het. Hul algehele tyd was 11:54:00, teenoor die SA wenpaar se 11:11:20.

Heymans het individueel agtste in die afdeling vir meestersmans geëindig en Liebenberg vyfde in die subveteraanafdeling. Hul spantyd was goed genoeg om hulle algeheel sesde in die mansspanne te plaas.

In dieselfde gemengde resies was vanjaar se pas bekroonde Namibiese bergfietskampioen Gabriela Raith (subveteraan), met die mansveteraan Mario Santana as spanmaat, die agtste kombinasie in 13:25:37.• In die Sani2C avontuurren het Anneke Steenkamp en Maike Bochert (Namgirls) in 15:47:22 die algehele 23ste posisie uit 81 vrouespanne ingeneem en was vierde in hul veteraanafdeling.

Ná die eerste dag het hulle vierde (5:00:25) klaargemaak, op dag twee derde (6:20:02) en op dag drie met 4:26:53 in die vierde posisie afgesluit om algeheel vierde te eindig.

• Die veteraan Allan Viviers en meestersryer Louis Peens (Food Lovers 4) het saam ingeskryf en algeheel agtste in die veteraanafdeling geëindig. Die eerste skof was hul beste, toe hulle dit in die agtste plek voltooi het 3:54:44, voordat hulle die toer met ’n totale tyd van 12:37:56 afgesluit het

Peens het as individuele ryer algeheel 46ste in die meestersafdeling geëindig, terwyl Viviers 45ste van die veterane klaargemaak het.

• Ses minute agter Viviers en Peens het Fanie Steenkamp en Fanna Lambert (Faantjie en Faantjie) negende in die veteranemanskompetisie klaargemaak (12:44:06).

• Die Avontuurren se meestersmanswenners was die uitgetrede Springbokrugbyspelers Joel Stransky en Jeremy Thomson, in 11:39:26, as die sewende en agtste mansvoltooiers algeheel. Nog twee oud-Bokke, Breyton Paulse en Warren Brosnihan, het drie ure langer as dié paar gery.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer