Dorsland: Beide nostalgies en elegant

Lloyd Zandberg
Toe Sanet Lambrechts met vervaardiger Helmut Meijer kragte saamgespan het, het iets onvergeetlik gebeur. Nie net is die musikale verwerking van haar nuwe album Dorsland treffend nie, maar dit is liries en melodies aangrypend.



Die titelsnit van hierdie 6-snit album is uit die pen van Helmut Meijer. Die aanslag is vars en verrassend en dit slaag daarin om iets nostalgies te skep, maar terselfdertyd ook iets elegant. Sanet se “Dorsland” word ook jou dorsland en dit is nie moeilik om jouself met die sentiment van hierdie lied te vereenselwig nie. Dan is daar die kenmerkende melodiese lyne wat by jou bly en nog lank na die lied verby is steeds in jou hart vassteek. Dieselfde geld vir die res van album – dit is musiek met hart en diepte.

Hierdie bekroonde sangeres, (ATKV Veertjie-wenner, ATKV Pluimpie-wenner, benoem as NAMA 2016 vroulike kunstenaar van die jaar) bekoor reeds jare lank Suid-Afrikaanse harte met haar sielsmusiek en Dorsland beloof om nie teleur te stel nie.

Sanet Lambrechts gesels graag oor haar uitdagende pad wat sy al in die lewe moes stap en haar getuienis is beide boeiend en opbouend. Kollig het by haar ingeloer.

As jy vir Sanet vra wat sy die meeste van haar beroep as sangeres geniet, sê sy alles, maar dat dit deel van haar menswees vorm, is vir haar uiters opwindend.

“Ek sing omdat ek nie anders kan nie. Ek hou van stories en drome droom. En musiek vul dit aan. Dit bly ‘n emosionele ervaring en reis vir my. Om te sing en op te tree en my hart te deel met ander, maak dit vir my die moeite werd. Al sing ek net vir drie mense. As ek terugvoering van ‘n luisteraars kry, wat sê die lied het vir hom/haar so baie beteken of die lied laat hom/haar so goed voel, het ek dalk ‘n deel van my doel bereik. Dit gaan op die ou end oor die samesyn en deelwees van ‘n groter prentjie.” sê die Namibiese sangsensasie.

Hoe oud was jy toe jy vir die eerste keer gesing het?

Ek was in Graad 1 toe die koshuistannie van Ernst Meyer, ‘n plaasskool daar naby Gobabis, op my afkom een namiddag waar ek besig was om my hare te was en te sing. Ek kan glad nie die lied onthou nie, maar ek onthou dat ek die enigste een in die badkamer was. Die ander kinders was op die sportveld. Ek was glad nie mal daaroor nie. Die tannie het my hoor sing en daai aand met Bybelstudie moes ek vir die hele skool (‘n hele 24 kinders dink ek) sing. Ek het na dit gereeld op konserte die hoofrolle as sanger en aktrise vertolk. Ek was absoluut mal oor al die aandag.

Hoe lank het dit geneem om Dorsland te skryf en op te neem?

Van die ses liedere het ek vier self geskryf. “10 000 Hallelujah’s” is in 2015 geskryf en geïnspireer in Damaraland. “Giver of Hope” in 2017, “Nooit Alleen” so ‘n maand voor opname en “Nuwe Oë” 3 uur die oggend voor die opname. Dit gebeur baie dat ek in die nagtelike ure met ‘n song in my kop wakker word, dan moet ek dadelik opneem, anders slaap ek glad nie verder nie.

Helmut Meijer het Dorsland geskryf na hy by ons op die plaas was. Intussen is die plaas verkoop en ons is tans besig om Windhoek toe te trek. Die lied gaan oor ons 22 jaar op die plaas, maar jy kan dit in enige konteks van jou lewe sien.

As jy met enige ander kunstenaar die verhoog kon deel, met wie sal dit wees? En wat sou julle sing?

Ek sou graag met Adele natuurlik ‘n verhoog wou deel en die lied “Rolling in the Deep” sing. Ek kan besonders baie met die liefde vereenselwig.

Is daar ‘n spesifieke liedjie op Dorsland wat vir jou uitstaan?

“Nooit Alleen” staan vir my uit. Dit gaan oor daai een persoon in jou lewe wat altyd by jou staan. Maak nie saak wat nie. Party dink dis ‘n geestelike lied, maar dis aanvanklik glad nie so geskryf nie. Ek dink jy kan die song interpreteer soos dit vir jou voorkom.

Dorsland is op meeste digitale platforms beskikbaar en harde kopië kan direk by Sanet bestel word. Stuur gerus ‘n epos aan [email protected].

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer