Donald Trump laat Ford rem trap in Mexiko
Donald Trump laat Ford rem trap in Mexiko

Donald Trump laat Ford rem trap in Mexiko

Trump het belowe hy gaan die Amerikaanse vervaardigingsektor, wat stadig maar seker na ander lande waar arbeid goedkoper is verskuif het, laat herleef.
Jo-Mare Duddy Booysen
Elvira Wood - Donald Trump, die verkose Amerikaanse president, het gister groot beroe­ringe in die land se motorvervaardigingsbedryf veroorsaak.

Bloomberg berig die oggend het begin met Trump wat op Twitter gedreig het om General Motors (GM) met swaar invoertariewe te straf omdat hy sy kompakte model in Mexiko vervaardig. Dit het Ford baie gou laat besluit om rem te trap met sy planne om sy aanleg in dié land uit te brei.

“GM stuur Chevy Cruze-modelle wat in Mexiko vervaardig is na motorhandelaars in die VSA sonder om belasting te betaal,” het Trump getwiet.

“Maak in die VSA of betaal hoë invoertariewe.”

Tony Cervone, woordvoerder van GM, was vinnig om te sê: “GM maak die Chevrolet Cruze-sedan in Lordstown in die deelstaat Ohio. Alle Chevrolet Cruze-sedans wat in die VSA verkoop word is in GM se monteeraanleg in Lordstown gemaak. GM vervaardig die Chevrolet Cruze-luikrugmodel vir wêreldmarkte in Mexiko. Net 'n klein hoeveelheid van hulle word in die VSA verkoop.”

Ford Motors het kort daarna gesê hy het besluit om sy US$1,6 miljard-projek om 'n aanleg in Mexiko uit te brei te kanselleer en sal eerder sy bedrywighede in die deelstaat Michigan uitbrei.

Trump was “baie gelukkig dat ons die belegging in Amerikaanse werkgeleenthede gaan maak,” het Mark Fields, uitvoerende hoof van Ford, op 'n mediakonferensie by sy aanleg in Flat Rock, Michigan gesê. Ford gaan 700 werkgeleenthede by dié aanleg skep.

“Een van die faktore waarna ons kyk is die meer positiewe VSA-sakeomgewing wat ons onder Trump verwag en die groeibeleid wat hy ondersteun.”

Trump het belowe hy gaan die Amerikaanse vervaardigingsektor, wat stadig maar seker na ander lande waar arbeid goedkoper is verskuif het, laat herleef.

Sy aanhoudende veldtog het op groot maatskappye soos Boeing, Lockheed Martin en United Technologies gefokus as dié wat baie poste verskuif het.

Joe Watkins, 'n Republikeinse konsultant in Pennsilvanië en voormalige assistent van pres. George H.W. Bush, waarsku maatskappye moet eerder saam met Trump werk as om in 'n woordestryd in sosiale media met hom betrokke te raak.

“Jy stel jouself net op om te verloor,” sê hy.

“Hy kan aanhou om jou met 'n enkele twiet in die nuus te hou, so hoekom in 'n geveg betrokke raak?”

– Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2025-09-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer