Dominou2019s val verkeerd vir Taste Holdings
Dominou2019s val verkeerd vir Taste Holdings

Domino’s val verkeerd vir Taste Holdings

Jo-Mare Duddy Booysen
Francois Williams

Taste Holdings se aandele moes die week erg pyne vat en was teen byna 12% laer op R2,16 nadat die eienaar van Domino’s Pizza en Starbucks in Suid-Afrika sy jaarsyfers bekend gemaak het.
Daar was ’n skerp daling in die groep se wesensverdienste van 16c tot 1,5c per aandeel in die boekjaar tot einde Februarie.
Carlo Gonzaga, uitvoerende hoof van Taste Holdings, sê hulle het dalk te vinnig die maatskappybestuurde takke van Domino’s uitgebrei, maar dit was die “geleentheid van ’n leeftyd” om twee sulke internasionale handelsname soos Domino’s en Starbucks binne een jaar te vestig.
Taste het die afgelope twee jaar aggressief uitgebrei. Sy bestaande St. Elmo’s- en Scooters Pizza-takke word stelselmatig na Domino’s oorgeskakel.
Taste het ook die hoenderbraairestaurant Zebro’s gekoop om saam met The Fish & Chip Co. die laerinkomstemark te bedien, en het die juweliersgroep Arthur Kaplan in 2014 oorgeneem.
Hoewel die groep se omset die afgelope boekjaar met 41% gestyg en die eerste keer die miljardrand-merk bereik het op R1,01 miljard, het die verdienste voor rente, belasting, depresiasie en afskrywing van R73,1 miljoen tot R47,2 miljoen gekrimp.
74 Domino’s Pizza-winkels het binne 16 maande hul deure geopen.
Taste Holdings het ’n verlies van R74,1 miljoen vir die tydperk gely, teenoor ’n wins van R16,149 miljoen ’n jaar gelede. Dit sluit egter al die eenmalige koste en ander kostes in wat verband hou met die snelle uitbreiding van Domino’s en die vestiging van Starbucks.
Die totale koste vir die vestiging van Domino’s beloop R62,678 miljoen, en die Starbucks-koste R8,334 miljoen.
Gonzaga meen die lesse geleer uit die afgelope twee jaar se snelle uitbreiding wys in die korttermynverdienste, maar met die langtermynaandrywers van verdienste nou gevestig, “betree die groep nou ’n fase van inwaartse fokus om die waarde in dié geleenthede te ontsluit”.
Gonzaga verduidelik om binne vier maande 26 maatskappybestuurde Domino’s Pizza-takke oop te maak het nie genoeg tyd gegee om die nodige stelsels en beheer in te stel en die regte mense te kry wat by die Domino’s-kultuur en -stelsels inpas nie.
Dié “wan-belyning” was die grondoorsaak vir baie van die uitdagings en het uiteindelik in die korttermynverdienste gewys. “Ons is egter vol vertroue dat dié uitdagings vanjaar oorkom sal word.” 
- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer