Dokters wil eis oor medisyne
Dokters wil eis oor medisyne

Dokters wil eis oor medisyne

Die toepassing van dispenseringslisensies vir medisyne het verskeie gesondheidslui aansienlike skade aangedoen.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - ‘n Eis om skadevergoeding teen die regering vir verliese wat dokters gely het wat nie meer medisyne kon dispenseer nie, gaan by die hoërhof ingedien word.

Sowat 28 eisers het reeds aangedui hulle wil deel van die vergoedingseis wees wat miljoene Namibiese dollar kan beloop.

Die hooggeregshof het op 9 Februarie vanjaar ten gunste van die Mediese Vereniging van Namibië (MAN) beslis dat sekere bepalings van die Wet op Medisyne en Verwante Middele (MRSCA), Wet No. 13 van 2003, nietig en ongrondwetlik is.

Dit ná ‘n uitgerekte en jarelange hofstryd rakende dokters wat volgens die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) verplig is om lisensies te hê om medisyne te kan dispenseer. ‘n Volbank regters het toe ook bepaal die respondente is verantwoordelik vir die hooggeregshof- en die hoërhofregskoste. Van dié respondente, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste asook die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) is nou ook die verweerders in die vergoedingeis.

Die vergoedingseis word deur die Namibië Private Praktisynsforum (NPPF) gedryf wat gister in ‘n kennisgewing in plaaslike dagblaaie ‘n beroep op geraakte partye gedoen het om by die aksie betrokke te raak.

Volgens die kennisgewing het die toepassing van die dispenseringslisensies verskeie gesondheidslui “aansienlike skade” aangedoen.

“Die NPPF is bereid om die administratiewe platform en nodige dienste te verskaf om eise in te stel vir verskaffers van gesondheidsdienste wat skade gely het,” luidens die kennisgewing.

Volgens mnr. Eben de Klerk van ISG Namibia sal die NPPF onder meer die administrasie koördineer. “Daar moet bepaal word wie is die eisers, hét die betrokke persoon ‘n eis sodat daar nie onnodig geld gemors word nie en wat was die verliese aan inkomste.”

Wanneer dit gedoen is, sal ‘n aktuaris aangestel word om ‘n model op te stel om die eisbedrae te bepaal.

De Klerk het voorts gesê een prokureur sal namens al die eisers optree. Volgens hom het tot op hede 28 NPPF-lede, meestal dokters, bevestig hulle het skade gely en wil by die aksie betrokke raak.

Hy wou hom egter nie uitlaat oor hoeveel die vergoedingseis kan beloop nie.

Volgens Februarie se hofuitspraak het dokters met betrekking tot die dispensering van medisyne ooreenkomstig die wet opgetree. Ook was hulle dit wil voorkom asof die stelsel meer daaroor gaan om “struikelblokke in mediese praktisyns se pad te plaas, as wat dit gaan oor groter toegang en beskikbaarheid van medisyne aan die behoeftige publiek”.

Hoewel die dokters nie daarin kon slaag om uitspraak te kry dat hulle daarop geregtig is om medisyne sonder 'n lisensie te dispenseer nie, kon hulle dit wel regkry om die huidige lisensiëringstelsel te laat hersien.

Gesondheidslui wat skade tydens die dispenseringsage gely het omdat hulle onder meer groot voorrade medisyne noodgedwonge mee moes wegdoen, het tot 16 Augustus tyd om by die groep eisers aan te sluit.

Om te registreer of vir meer inligting oor die proses, kan De Klerk by [email protected] of (061) 308 004 gekontak word.

Kommentaar

Republikein 2025-11-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer